Kwagga opgewonde oor All Blacks-toets

Kwagga Smith (heel regs) probeer die All Blacks se David Havili te stuit. (Foto: Phill Magakoe/AFP)

In 2019 het Kwagga Smith – wat toe in skaars sy tweede toets vir die Springbokke gespeel het – meer duikslae as hardebaardspelers soos Duane Vermeulen en Pieter-Steph du Toit teen die All Blacks in Wellington uitgevoer.

Die toets het gelykop geëindig (16-elk) en ʼn paar maande later het die Suid-Afrikaners die Webb Ellis-trofee in Japan omhoog gehou.

Nou speel die Springbok-span eerskomende Saterdag weer teen sy aartsvyand in Auckland. En boonop is dit wéér ʼn Wêreldbeker-jaar.

Net soos op daardie dag in Wellington sal Smith nou weer nie vir die Kiwi’s op hul tuisveld terugstaan nie.

“Ek is mal daaroor om teen die All Blacks te speel. Só ʼn wedstryd bring altyd die beste in my as ʼn speler na vore,” het die losvoorspeler tydens ʼn mediageleentheid in Nieu-Seeland gesê.

Smith in aksie teen die All Blacks op die Mbombela-stadion. (Foto: Phill Magakoe/AFP.)

Die twee trotse rugbylande het al 103 keer teen mekaar gespeel met die All Blacks wat 61 keer die septer geswaai het. Daarteenoor het die Springbokke al 38 keer as oorwinnaars van die veld gestap terwyl vier toetse gelykop geëindig het.

Ja, dit is ʼn uitdaging om teen ander lande te speel, maar ʼn Springbok/All Blacks-tweestryd bly net spesiaal.

“Persoonlik dink ek dit is een van die grootste tweestryde op die internasionale rugbyverhoog. Die geskiedenis en wedywering wat met só ʼn kragmeting gepaardgaan dra ongetwyfeld tot die grootsheid van die kragmeting by.”

Die All Blacks het verlede jaar teen die Springbokke in die Mbombela-stadion verloor, terwyl hulle ook teen Argentinië en Ierland vasgeval het.

Smith hou egter voet by stuk: Die Nieu-Seelanders sal altyd gevaarlik bly.

Die All Blacks sal altyd gedugte teenstanders bly. (Foto: GB Jordaan)

“Nieu-Seeland is ʼn gewilde span en hulle sal nooit hul aura verloor nie. Dit beloof om ʼn baie taai wedstryd te wees en hulle sal ongetwyfeld ʼn stewige vertoning voor hul tuisskare wil opdis.”

Die 30-jarige Lydenburg-boorling, wat 1,8 m in sy sokkies staan en 91 kg weeg, is al voorheen gekritiseer dat hy te klein is om ʼn internasionale losvoorspeler te wees.

Tog het een van die grootste agterspelers ter wêreld, die Fidjiaan Nemani Nadolo, hom al op Twitter in Smith se hoek geskaar. Dit is nie altyd die swaarste spelers wat meeste impak het nie.

Daarbenewens het Smith onlangs ook sy waarde tot die Springbok-groep met ʼn uithalervertoning in Japan onderstreep.

Die losvoorspeler is as die speler van die seisoen (afdeling een) aangewys ná sy heldedade saam met die Shizuoka Blue Revs.

Smith, wat die kapteinskapleisels vir sy span vasgevat het, het onder meer toegesien dat sy span die relegasie-valbyl misloop.

Die Rugbykampioenskap-toets tussen Suid-Afrika en Nieu-Seeland begin Saterdag om 09:05 en die aksie word regstreeks op SuperSport uitgesaai.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Niklaas ·

Ons sal beslis duim vashou en hoop op oorwinning. Maar ons moet onthou ….AB’s is nie Australië nie. Dit gaan een harde stryd wees.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.