Kwarteindstryd ʼn skoon bladsy vir Stormers, Bulls

Die Stormers se John Dobson. (Foto: Hansie Linde)

John Dobson meen dat die afgelope Saterdag se Curriebeker-vertoning nie so ʼn groot invloed op die komende Verenigde Rugbykampioenskap-kwarteindstryd tussen die Stormers en die Bulls sal hê nie.

ʼn WP-span het die afgelope naweek met ʼn oortuigende vertoning die Pretorianers met 31 – 7 op die DHL-stadion ore aangesit; die einste venue van die komende VRK-uitspeelwedstryd.

“Dit gaan ʼn groot wedstryd wees. Ja, ons het ʼn bietjie selfvertoue danksy ons Curriebeker-vertoning gekry, maar aan die ander kant verstaan die Bulls ons spel en benadering tot wedstryde ook nou ʼn bietjie beter. Ons span gaan ook nie dieselfde [as in die Curriebeker-kragmeting] wees nie; ons gaan op ʼn skoon bladsy begin,” het Dobson gesê.

(Foto: Hansie Linde)

In teenstelling met Jake White – wat sy span met VRK-sterre soos Kurt-Lee Arendse en Cornal Hendricks vir die Curriebeker-stryd gelaai het – het Dobson die meeste van sy hardebaardspelers ʼn ruskans gegee.

“Ons het hulle die naweek afgegee om ʼn bietjie te rus. Daar is nou so baie op die spel en om ʼn volgepakte stadion vir ʼn Stormers/Bulls-wedstryd te hê sal die kersie op die koek wees.”

Jong spelers soos Dylan de Leeuw, Sacha Feinberg-Mngomezulu en Connor Evans het Saterdag die kollig teen ʼn Bul-span gesteel wat met ʼn platvoet-vertoning vorendag gekom het.

Terselfdertyd het die tuisspan se verdediging die Pretorianers onder kwaai druk geplaas en die besoekers het op die aanval gesukkel.

Al sê Dobson wat, in die Kaap word daar tans groot geglimlag: Hulle het immers die kwarteindstryd-kleedrepetisie loshande gewen.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.