Kyk: Fransmanne verwelkom Siya by Racing 92

Siya Kolisi (middel) word deur Racing 92 se Laurent Travers en Stuart Lancaster verwelkom. (Foto: Thomas Samson/AFP)

Ondersteuners van Racing 92 kon Siya Kolisi vir die eerste keer in die kleure van die Franse klub sien.

Die 32-jarige losvoorspeler, wat aan die stuur van die Springbokke se suksesvolle Wêreldbeker-veldtogte in 2019 en 2023 was, het ʼn kontrak van drie jaar met die Paryse span gesluit en hy is Donderdag amptelik deur klubpresident Laurent Travers verwelkom.

Kolisi sal in alle waarskynlikheid sy Racing-buiging op 26 November maak wanneer die klub teen La Rochelle in die Franse hoofstad kragte meet.

“Ek is opgewonde. Dit voel amper soos die eerste dag terug by die skool,” het die Springbok-kaptein gesê.

Volgens die dubbeldoor Webb Ellis-wenner tel reputasie nie veel nie; hy wil sy stempel op die veld afdruk.

“Ek wil myself aan die ondersteuners bewys, die taal aanleer en met ʼn nuwe kultuur vertroud raak. Wanneer ek eendag die klub verlaat, sal ek daarvan hou as mense sê dat ek my heel beste gegee het.

Kolisi het die Springbokke reeds in 83 toetse verteenwoordig en hy het 67% van sy 53 wedstryde as kaptein gewen.

Benewens sy Wêreldbeker-sukses was hy ook aan die stuur van sake toe die Suid-Afrikaners in 2021 met die Britse en Ierse Leeus afgereken het.

Hy het in dieselfde jaar die eerste Springbok-kaptein (sedert Jean de Villiers in 2013) geword om met SA Rugby se speler van die jaar-toekenning weg te stap.

“Ons is baie opgewonde om ʼn speler van Siya se vaardighede en karaktereienskappe te verwelkom. As ʼn afrigter sal ek hom wil uitdaag en ek glo dat hy nog oor die spel kan leer. Hy is ʼn rolmodel vir baie mense en hy is ʼn man wat getrou is aan sy waardes,” het Stuart Lancaster, afrigter, gesê.

Kolisi het tydens die Wêreldbeker-triomftoer gesê dat hy nog oorgehaal is om die Springbok-trui te dra.

“Ek is nog beskikbaar om gekies te word. Niks gaan verander nie. Ek wil speel. Om die Springbokke te verteenwoordig is vir my die heel belangrikste; ongeag of ek kaptein is of nie.”

Die Springbok-kaptein Siya Kolisi. (Foto: Phill Magakoe/AFP)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Olive ·

Niks persoonlik nie, maar ek wonder of hulle weet hier is nog so ± 50 miljoen wat hulle kan kry?

absoluut ·

Olive, beste antwoord wat ek in n lang tyd gehoor het, baie dankie

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.