Kyk: ‘Losgemaal’ praat rugby in jou taal

Foto: Verskaf.

Vir Jacques “Cappie” Henning en Hein Diemont is daar niks lekkerders as om oor rugby in Afrikaans te gesels nie; en met die Britse en Ierse Leeus in Suid-Afrika is daar ongetwyfeld baie dinge om oor te praat.

Die twee entoesiastiese leunstoel-ondersteuners – een ’n vryskut-sportvideoredigeerder en die ander ’n rekenmeester – is mal oor sport en hulle het Die Losgemaal-reeks van stapel gestuur.

Die konsep van Die Losgemaal behels dat die twee aanbieders ’n “kenner” of huidige/voormalige spelers as gaste nooi en dan met hulle gesels oor die jongste verwikkelinge in die Suid-Afrikaanse rugbylandskap.

Van die gaste wat die afgelope 54 episodes op die program verskyn het, sluit bekendes soos Schalk Brits, Braam van Straaten, Heyneke Meyer, BJ Botha, Ruan Pienaar, Johann van Graan, Ollie le Roux, Loffie Eloff, Bevin Fortuin, Schalk Burger (senior) en Dan van Zyl in.

In die jongste episode gesels hulle met Kobus Wiese oor die Emirates Lions se komende wedstryd teen die Britse en Ierse Leeus, terwyl hy ook van sy eie 1997-ervaringe teen die toerspan deel.

Van die gaste in Hein en Cappie se Leeus-reeks sluit onder andere Jimmy Stonehouse, Stefan Terblanche, Casper Steyn en Bismarck du Plessis in.

Die Losgemaal word Dinsdae en Donderdae regstreeks uitgesaai en die uitsendings word op Facebook, YouTube en Twitter gedeel.

Maroela Media-lesers kan egter ook in die pret deel wanneer die skakel gereeld gedeel word.

“Toeskouers mag dalk by die wedstryde verbied word, maar jy kan in die gemak van jou eie huis saam met ons gees vang terwyl ons saam met van die land se rugbybekendes regdeur die opwindende toer kuier.”

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.