Die tweede ronde van die Curriebekerreeks het Saterdag op Ellispark lekker hardlooprugby in die riller tussen die Goue Leeus en Griekwas, opgelewer, en die Sharks en die Pumas het op Kingspark deur 80 minute geploeter.
Die Leeus het met 48-43 gewen, die Sharks met 29-0 op ʼn dag waar die twee wenspanne se opwindende jong vleuels, Madosh Tambwe van die Leeus en Sibusiso Nkosi van die Sharks, met hulle vaart en vaardigheid beïndruk het.
Albei het al ʼn wedstryd of twee Superrugby gespeel.
♦ Byna 40 hanteerfoute en rugby wat verveel het, het die wedstryd op Kingspark gekenmerk. Teen rustyd was die Sharks slegs 3-0 voor na ʼn strafdoel in die eerste vyf minute.
Ná rustyd is vier drieë gedruk, maar daar was niks opwindends nie omdat die Pumas, wat hard probeer het, net eenvoudig nie die skietgoed teen ʼn semi-Superspan van die Sharks gehad het nie.
Die oorwinning was vir die Sharks broodnodig ná verlede week se neerlaag teen die Vrystaat, maar hulle afrigter Robert du Preez kan allermins ná hierdie treurige affêre gelukkig wees.
Puntemakers –
Sharks (3) 29: Drieë: Kobus van Wyk, Lukhanyo Am, Sibusiso Nkosi, Jeremy Ward. Doelskoppe: Curwin Bosch: 3. Strafdoel: Bosch.
Pumas: 0
♦ Op Ellispark was die Leeus in ʼn stadium met 21 punte voor en Griekwas klaarblyklik uit die prentjie. Griekwas, wat verlede week met net ses punte (45-51) teen die Blou Bulle verloor het, het egter pragtig teruggeveg en dit teen die einde weer net-net nie gemaak nie.
Die Goue Leeus het met 48-43 gewen en sewe drieë teen ses gedruk.
Die Goue Leeus, wat ʼn paar spelers aan Japanse rugby vir húlle seisoen afstaan en ʼn paar aan ander Franchise’e of Europa verloor, het gewys hulle sal wel ʼn krag in die Curriebekerreeks wees.
Die Leeus het Saterdag sonder hulle voorste 30 spelers gespeel wat by die Super-halfeind betrokke was of steeds saam met die Superspan oefen.
Puntemakers
Goue Leeus (33) 48: Drieë: James Venter, Jacques Nel, Jarryd Sage, Anthony Volmink, Jaco van der Walt, Madosh Tambwe 2. Doelskoppe: Shaun Reynolds 5. Strafdoel: Reynolds.
Griekwas (24) 43: Christiaan Meyer 2, George Whitehead, Enver Brandt 2, Renier Botha. Doelskoppe: George Whitehead 5. Strafdoel: Whitehead.
Ryan welkom by die leeus!!!! Jislaaik wat n verrassing om te hoor jy is by die leeus ek dink jy gaan uitstekend by hulle inpas en geluk met jul oorwinnig vandag, nou net nog Etsebeth.
Boringgggg!!!
Boring
Ek verstaan nie hoe is Leeus uit prentjie as hul voor is nie…sien ook vleuel se van word in dieselfde berig verskillend gespel