Lions brul hard teen vuisvoos Sharks

Wanneer weerlig slaan en die donderweer rommel, is al uitweg om so vinnig moontlik skuiling daarteen te soek.

Dit was Saterdagmiddag op Ellispark die geval toe dit net voor rustyd in die kragmeting in die Verenigde Rugbykampioenskap tussen die Lions en Sharks begin reën het.

Die Lions het uiteindelik verspot maklik met 40-10 gewen om die agterdeur oop te hou om steeds vir die uitkloprondes te kwalifiseer, terwyl die treurmare steeds oor die sukkelende Sharks gespoel het.

Die telling was rustyd 19-10 in die guns van die Lions toe dit hard begin reën het met ’n gepaardgaande ʼn elektriese storm wat oor Johannesburg geskuif het.

Die wedstrydbeamptes het geen ander keuse gehad as om die wedstryd vir 30 minute op te skort en die spelers en beamptes in die kleedkamer te hou nie.

Nadat die storm oorgeskuif het, is daar besluit om dit teen 16:40 te hervat. Dit het die spelers in staat gestel om weer behoorlik op te warm. Die Lions was rooiwarm. Hulle het die Sharks in die skrums verfomfaai, voos geduik en gerolmaal.

Agterlangs het Sanele Nohamba al die toutjies getrek. Nohamba, wat weer teruggeskuif het skrumskakel toe, het sy tweestryd met die Bok Grant Williams maklik gewen. Die Lions se buksie het gebreek, geskop en getêkkel en die Sharks aan die raai gehou.

Langs hom het die kaptein Marius Louw, Edwill van der Merwe en Quan Horn die Sharks oorhoops gehad.

Die Sharks se dissipline het gelol en hulle sal diep selfondersoek moet doen hoekom dit gebeur het.

Bongi Mbonambi, wat die kaptein was, het deurgaans gekla en hy is by twee geleenthede deur die skeidsregter, Aimee Barrett-Theron, aangespreek om respek teenoor haar te toon

Dan is die loskop Ntuthuko Mchunu gestraf nadat Aphelele Fassi ʼn drie gedruk het en dit gekanselleer is.

Daarom was dit geen nie verrassing nie toe Mbonambi ʼn geel kaart gekry het nadat hy ʼn lynstaan-rolmaal afgetrek het nie.

Die res van die span het ook telkemale oortree en toe die damwal in die tweede helfte gebars het, het dit sake vererger.

Is dit die afrigter, John Plumtree, se skuld? Moet die spelers pa staan omdat hulle nie by sy wedstrydplan kan aanpas nie?

Die groot vraag is wat daaraan gedoen gaan word.

Ja, die tjekboek word lustig rondgeswaai en oor ʼn paar weke gaan André Esterhuizen, Jordan Hendrikse, Jason Jenkins en Emmanuel Tshituka ook Sharks word.

Maar kan jy ’n span koop as daar dalk ander dinge is wat pla?

Puntemakers:

Lions 40 (10): Drieë: Sanele Nohamba, JC Pretorius, Quan Horn, Conraad van Vuuren, Erich Cronjé, Hanru Sirgel. Doelskoppe: Jordan Hendrikse (5).

Sharks 10 (10): Drie: Eduan Keyter. Doelskop: Siya Masuku. Strafdoel: Masuku.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

SjN ·

Geluk Lions, wys net dit kan gedoen word, arogante en ongedisiplineerde optrede deur Sharks spelers het hul verder laat verloor. Hoop hul het n les geleer.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.