Lions druk meeste drieë onder SA spanne

Die SA spanne in aksie tydens vanjaar se Superreeks. Foto: GB Jordaan.

Met die Bulls en die Sharks wat in die kwarteindstryd van die Superrugby-reeks uitgeskakel is, is dit neusie verby vir Suid-Afrikaanse spanne in dié reeks.

Die Jaguares verteenwoordig darem nog die SA afdeling wanneer hulle in Buenos Aires kragte teen die Brumbies meet. Dit is ’n klap in die gesig van die Bulls, Lions, Stormers en Sharks dat ’n Argentynse span nie net in die halfeindstryd van die reeks speel nie, maar ook die SA afdeling oortuigend gewen het.

Volgens Sanzar se amptelike webtuiste, het die plaaslike spanne maar statisties beroerd in die reeks gevaar.

Die Bulls het darem die meeste lynstaanballe gewen, terwyl hul kaptein en losskakel, Handré Pollard, die meeste punte aangeteken het.

Onder al die SA spanne het die Bulls waarskynlik die orraaitste seisoen gehad – ongelukkig gaan die massa-eksodus uit Loftus binnekort begin en die Bulls sal weer in ’n “herbou-fase” wees.

Hier is van die statistiek:

  • Meeste drieë

Die Crusaders is eerste met 78 drieë hierdie seisoen. Onder die Suid-Afrikaners het die Lions (53) die meeste kere agter hul teenstanders se doellyn baljaar, gevolg deur die Bulls (46), die Sharks (41) en die Stormers (34).

  • Meeste breekslae

Weer eens is die Crusaders die nommereen‑span met hul 238 breekslae. Die Lions (190) is die beste onder die plaaslike spanne, met die Bulls (180), die Sharks (156) en die Stormers (133) wat die lys voltooi.

  • Die bal die verste gedra

Kan iemand verder as die Crusaders hardloop?

Hulle het 8 089 m met die bal gevorder. Die Sharks (7 146 m) is nou die beste SA span met die Lions (7 002 m), die Bulls (6 329 m) en die Stormers (6 003 m) wat volg.

  • Meeste verdedigers geklop

Die Hurricanes het die meeste verdedigers na lug laat gryp. Die Nieu-Seelanders het 451 keer deur ’n verdediger se hande gebars.

Die Lions het 390 verdedigers geklop, die Bulls 355, die Lions 350, die Stormers 350 en die Sharks 348.

  • Suksesvolle duikslae uitgevoer

Die Waratahs is in die kol met 86,7% gewonne duikslae. Die Sharks (85,5%) is die beste SA span met die Stormers (84,7%), die Bulls (84,4%) en die Lions (82,6%) wat volg.

  • Lynstane gewen

Uiteindelik! ’n Plaaslike span wie se naam eerste gelees word!

Die Bulls (slotkrisis en al) het die hoogste persentasie (93,5%) lynstaanballe gewen. Die Lions (90,9%) en die Stormers (90,3%) het skaflik vertoon, maar die Sharks kon net 86,1% van hul lynstane wen.

  • Nie een Suid-Afrikaner is onder die toptien-driedrukkers nie, maar Pollard het die meeste punte aangeteken. Sy 194 punte sal nie sommer verbygesteek word nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Al ·

Eish Judge. Ons hoop maar net die krieket nagmerrie was ‘n goeie wake-up call en dat die keurders wragtag die beste spelers sal kies. As die debakel hom herhaal met die rugby wêreldbeker is dit neusie verby met sport in SA. (as dit nie reeds is nie??)

Swartwolf ·

Goeie resultate Bulle. Pollard wys weer sy klas. Geen wonder hy kry sulke offers van Europese klubs nie. Moes Springbok kaptein gewees het. Waarmee sit ons nou ?

Swartwolf ·

Met nulle bedoel jy seker weer probeer want hulle het nog geen SR trofee gewen in 24 Jr nie. Spul sukkelaars. Laaste op SA log met al daai kwota bokke seker ook te verwag. Nee hemel laat hulle klubrugby speel in die Atlantic Liga seker ‘n paar van daai spanne sal hul pap speel in een helfte.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.