Lions honger vir sukses in Durban

Marius Louw duik oor vir ’n drie. (Foto: GB Jordaan.)

Die Lions mag dalk lanklaas ʼn rugbywedstryd in Durban gewen het, maar hulle is gereed om die bordjies die naweek op Kingspark te verhang.

Die Johannesburgers speel Saterdag teen die Sharks in ʼn Verenigde Rugbykampioenskap-wedstryd.

Volgens kaptein Marius Louw weet hy dat Durban se hoë humiditeitsvlakke ʼn invloed op die kragmeting sal hê, maar hy is vol vertroue dat die Lions by die toestande kan aanpas.

“Baie van die ouens het al wedstryde op Kingspark gespeel en hulle is gewoond aan die humiditeit. Daarbenewens was die afgelope paar weke in Gauteng ook lekker warm met ʼn bietjie reën; ja-nee, ons is gereed vir die tweestryd,” het die senter gesê.

Die Lions beklee tans die 12de plek op die amptelike VRK-punteleer, maar hulle het twee minder wedstryde as die meeste van die ander spanne gespeel.

Daarteenoor geniet die Sharks tans houtlepelstatus met net een oorwinning in die span se agt kragmetings.

Ricardo Loubscher meen dat die welkome blaaskans oor die Kersseisoen die Johannesburgers ʼn definitiewe hupstoot gegee het.

“Die breek het op presies die regte tyd gekom en ons hooffokus is nou om seker te maak dat ons ʼn goeie vertoning teen die Sharks lewer. Wanneer jy in Durban is, moet jy die wedstryd goed bestuur en seker maak dat jy nie balbesit onnodig weggee nie,” het die Lions se assistent-afrigter gesê.

Die Lions speel deesdae met hernieude vuur en passie en hulle het reeds sewe bonuspunte in die jongste weergawe van die VRK-reeks ingeoes.

“Ons is trots op ons bestendigheid en samespel. Ons speel beslis vir mekaar en elke ou vertolk ’n spesifieke rol in die groep. Sodoende groei ons beslis as ’n span en ’n unie,” het Louw afgesluit.

Die wedstryd begin Saterdag om 17:00 en die aksie word regstreeks op SuperSport uitgesaai.

  • VRK-punteleer:
  1. Leinster: 34 punte ná nege wedstryde
  2. Benetton: 32 punte ná nege wedstryde
  3. Glasgow Warriors: 31 punte ná nege wedstryde
  4. Ulster: 28 punte ná nege wedstryde
  5. Edinburgh 26 punte ná nege wedstryde
  6. Bulls: 26 punte ná agt wedstryde
  7. Stormers: 26 punte ná nege wedstryde
  8. Ospreys: 25 punte ná nege wedstryde
  9. Connacht: 24 punte ná nege wedstryde
  10. Munster: 24 punte ná nege wedstryde
  11. Cardiff: 21 punte ná nege wedstryde
  12. Lions: 19 punte ná sewe wedstryde
  13. Scarlets: 12 punte ná nege wedstryde
  14. Zebre: 12 punte ná nege wedstryde
  15. Dragons: 10 punte ná nege wedstryde
  16. Sharks: 8 punte ná agt wedstryde.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.