Lions knor nie meer teen plaaslike teenstanders

Sanele Nohamba en Quan Horn vier die Lions se vorige oorwinning op Loftus Versfeld. (Foto: GB Jordaan)

ʼn Seisoen of twee of drie gelede het die Lions geknor om by ander plaaslike spanne op die rugbyveld kers vas te hou.

Maar met die Jukskei-derby teen die Bulls om die draai, is die Johannesburgers gereed om weer vir vriend en vyand te wys dat hulle nie meer sommer vir ander Suid-Afrikaanse spanne skrik nie.

Hulle het immers die vorige Verenigde Rugbykampioenskap-kragmeting tussen die twee spanne met 29 – 25 beklink. Op die einste Loftus Versfeld.

“Ja, ons het vir die afgelope paar jaar teen Suid-Afrikaanse teenstanders gesukkel, maar ons onlangse vertonings het gewys dat dit iets van die verlede is,” het Marius Louw gesê.

Tog weet die Lions-kaptein dat die Pretorianers allesbehalwe kanonvoer op hul tuisveld sal wees.

“Hulle het die afgelope paar weke baie goeie rugby gespeel en ons weet presies hoe gevaarlik hulle kan wees. Hulle dis fisieke spel op en hou daarvan om die bal na hul agterlyn te laat loop.”

In die Lions se jongste wedstryde het hy onder meer met die Sharks op Kingspark afgereken, terwyl ’n onervare span ’n goeie vertoning teen Montpellier weg van die huis gelewer het.

Verlede naweek se nederlaag van 38 – 28 teen die Ospreys op Ellispark laat egter ’n wrang smaak in die mond; veral wanneer ’n mens in ag neem dat die tuisspan tien minute vóór die eindfluitjie nog met 28 – 17 voorgeloop het.

Volgens Louw sal die Lions nie sommer weer sy voet van die versnelpedaal haal nie; ’n goeie vertoning vir die volle 80 minute is nodig om die Bulls op Fort Loftus te klop.

Die wedstryd begin Saterdag om 15:00 op Loftus Versfeld en die aksie word regstreeks op SuperSport uitgesaai.

Vorige VRK-uitslae tussen die Bulls en Lions:

4 Maart 2023: Lions 29 – 25 Bulls

17 September 2022: Bulls 31 – 15 Lions

5 Februarie 2022: Bulls 21 – 13 Lions

29 Januarie 2022: Bulls 34 – 10 Lions

Punteleer:

  1. Leinster: 34 punte ná nege wedstryde
  2. Benetton: 32 punte ná nege wedstryde
  3. Glasgow Warriors: 31 punte ná nege wedstryde
  4. Ulster: 28 punte ná nege wedstryde
  5. Edinburgh: 26 punte ná nege wedstryde
  6. Bulls: 26 punte ná agt wedstryde
  7. Stormers: 26 punte ná nege wedstryde
  8. Ospreys: 25 punte ná nege wedstryde
  9. Connacht: 24 punte ná nege wedstryde
  10. Munster: 24 punte ná nege wedstryde
  11. Lions: 23 punte ná agt wedstryde
  12. Cardiff: 21 punte ná nege wedstryde
  13. Scarlets: 12 punte ná nege wedstryde
  14. Zebre: 12 punte ná nege wedstryde
  15. Dragons: 10 punte ná nege wedstryde
  16. Sharks: 9 punte ná nege wedstryde.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.