Lions ‘opgewonde’ oor taai Montpellier-toets

Die Lions speel Saterdagaand weg van die huis teen Montpellier. (Foto: X/Lions)

Die Lions mag dalk sonder die dienste van spelers soos Sanele Nohamba, Quan Horn, Marius Louw en Hencu van Wyk vir hul wedstryd teen Montpellier wees, maar hulle is steeds gereed om ʼn maanhaar-vertoning teen die Fransmanne te lewer.

Maklik gaan dit beslis nie wees nie.

Montpellier spog immers met spelers soos Cobus Reinach, George Bridge, Jan Serfontein en Ben Lam in sy geledere en die span beklee tans die eerste plek in Groep 2 van die Europese Uitdaagbeker.

Tog is die Lions kort op die Franse klub se hakke – met net een punt, om die waarheid te sê – en hulle is oorgehaal om sterk op die GGL-stadion te staan.

“Ek dink dit gaan ʼn taai uitdaging wees. As ʼn mens na hul talentvolle spelersgroep kyk, kan jy nie eintlik verstaan waarom hulle tans in die Top 14-toernooi sukkel nie,” het Barend Pieterse gesê.

Volgens die Lions se voorspelerafrigter sal die Johannesburgers nie sommer van hul wedstrydplan wyk nie, maar aanpasbaarheid is ewe belangrik.

Oud-Blitsbok JC Pretorius is in die Lions-toergroep. (Foto: GB Jordaan)

“As die weer dit toelaat, sal ons altyd ʼn span wees wat aanvallende rugby speel. Maar ons sal eerste gebiedsvoordeel wil jaag en die bal as’t ware agter hul groot spelers instuur.”

Terselfdertyd sien die spelers daarna uit om teen die sterbelaaide Montpellier kragte te meet.

“As ʼn groep werk ons baie goed saam en die ouens daag mekaar uit om hul beste spel op te dis. Ons is dus natuurlik opgewonde oor die wedstryd en dit is ʼn groot geleentheid om ons stempel as ʼn span af te druk,” het Darrien Landsberg gesê.

Die Europese Uitdaagbeker-wedstryd begin Saterdag om 22:00 en die aksie word regstreeks op SuperSport uitgesaai.

Lions se toergroep:

Agterspelers: Andries Coetzee, Erich Cronjé, Boldwin Hansen, Jordan Hendrikse, Rynhardt Jonker, Gianni Lombard, Johan Mulder, Stean Pienaar, Manuel Rass, Nico Steyn en Kade Wolhuter.

Voorspelers: Morné Brandon, Izan Esterhuizen, Corné Fourie, Travis Gordon, Darrien Landsberg, Morgan Naude, Etienne Oosthuizen, Heiko Pohlmann, JC Pretorius, Raynard Roets, Hanru Sirgel, Ruan Smith, Ruhan Straeuli, Conrad van Vuuren en Jaco Visagie.

  • Puntelere:

Groep 1:

  1. Cheetahs: 9 punte ná twee wedstryde
  2. Sharks: 7 punte ná twee wedstryde
  3. Dragons: 6 punte ná twee wedstryde
  4. Zebre: 4 punte ná twee wedstryde
  5. Section Paloise: 4 punte ná twee wedstryde
  6. Oyonnax Rugby: 1 punt ná twee wedstryde

Groep 2:

  1. Montpellier: 10 punte ná twee wedstryde
  2. Lions: 9 punte ná twee wedstryde
  3. Benetton: 6 punte ná twee wedstryde
  4. Ospreys: 5 punte ná twee wedstryde
  5. Newcastle Falcons: 1 punt ná twee wedstryde
  6. Perpignan: Geen punte nie ná twee wedstryde

Groep 3:

  1. Gloucester: 8 punte ná twee wedstryde
  2. Black Lion: 5 punte ná twee wedstryde
  3. Castres Olympique: 5 punte ná twee wedstryde
  4. Clermont: 5 punte ná twee wedstryde
  5. Edinburgh: 5 punte ná twee wedstryde
  6. Scarlets: Geen punte nie ná twee wedstryde

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.