Lions troef die Sharks, ook maar net-net

Tiaan Swanepoel. (Foto: GB Jordaan)

Vrydagaand op Loftus Versfeld het die Stormers-agtsteman, Juarno Augustus, sy span die wedstryd teen die Bulls gekos toe hy die bal aangeslaan het nadat hy die moontlike wendrie sou druk nadat hy reeds oor die doellyn was.

Saterdag op Ellispark was dit weer sulke tyd toe die Lions se senter, Wandisile Simelane, met ʼn oop doellyn voor hom krampe gekry het en hy nie die doodsnikdrie kon druk nie.

Die telling in die Voorbereidingsreeks was toe nog met 40-40 gelykop en die Lions sou seëvier, maar gelukkig vir die tuisspan het die skeidsregter, Rasta Rashivenge, wat terloops die wedstryd te vroeg beëindig het en toe aangedui het dat die spanne vir nog ʼn minuut moet voortspeel, ʼn strafskop aan die Lions toegeken wat Tiaan Swanepoel oorgeklits het om sy span met 43-40 te laat wen.

Daar was 12 drieë op die spyskaart, daar was ʼn hele paar hoogtepunte, daar was ʼn paar skitterende bewegings, maar dalk het kersie op die koek steeds ontbreek.

Want daar was weer ʼn magdom strafskoppe vir oortredings in die skrums en by die afbreekpunte, daar was afskoppe wat direk uitgeskop is, en daar was ʼn rits hanteerfoute.

Dit help nie as die spelers aangejaag word om nie tyd te mors nie, maar verskeie voorvalle word nie na die televisieskeidsregter verwys nie.

Ja, dis om seker van beslissings te maak, maar dit verbreek die kontinuïteit.

Maar dit gaan nie help om met die witbrood onder die arm te kla nie.

Was dit nie vir dié reeks nie, sou Suid-Afrika se spelers soos skape na die slagpale gelei gewees het wanneer die Reënboogreeks teen die oorsese Pro14-spanne plaasvind.

Daar was ʼn hele paar blink diamante aan albei kante, die spelers lyk lus vir speel en namate die reeks vorder verbeter die vaardighede.

Vir die Lions was dit Swanepoel, Simelane, Willem Alberts en veral die yster-flank Vincent Tshituka wat die oog getref het.

Vir die Haaie het Aphilele Fassi, Werner Kok, Le Roux Roets, Dylan Richardson en die plaasvervanger-stut Ntuthuku Mchunu, wat 50 meter vir een van sy drieë deurgenael het, groot indruk gemaak.

Punte: Lions 43: Drieë: Ngia Selengbe, Tiaan Swanepoel, Vincent Tshituka, Courtnal Skosan, Jan-Henning Campher, Wandisile Simelane. Doelskoppe: Swanepoel, Elton Jantjies (3).

Sharks 40: Drieë: Aphelele Fassi, Werner Kok, Dylan Richardson (2), Nthuthuku Mchunu (2). Doekskoppe: Boeta Chamberlain (3), Curwin Bosch (2).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

MakersMark ·

Geluk lions welverdiende oorwinning. Lyk nie of rocn en blm so lekker meng met rugby nie vra sharks en england.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.