Louwarm Wallis klop Portugal

Portugal se haker Mike Tadjer (regs) verloor beheer oor die bal wanneer Wallis se losskakel Gareth Anscombe (links) hom grond toe bring. (Foto: CHRISTOPHE SIMON / AFP)

Portugal se rugbyspan het Saterdagaand in Nice soos ʼn vars briesie deur vanjaar se Wêreldbekertoernooi getrek.

Ja, heeltemal reg gehoor.

ʼn Land waar sokker koning kraai, waar rugby aan die agterspeen suig.

ʼn Rugbyspan met net 12 professionele spelers van wie 13 spelers klubrugby in Frankryk speel; ʼn span van wie net een speler, die haker Mike Tadjer, vir Perpignan in die Franse Top14-reeks speel.

Die res van die spelers speel in die Franse tweede en derde liga.

Maar gee hulle punte.

Wallis het Portugal weliswaar met 28 – 8 geklop, maar eers in die laaste minuut ʼn bonuspuntdrie gedruk.

Wallis, wat verlede naweek teen Fidji deurgeskraap het, het weer nie oortuig nie, met Portugal wat gewys het dat hulle in die Wêreldbekertoernooi hoort, dat hulle met die nodige ondersteuning van die rugbybase nog verder na vore kan beur.

Hulle was vol ondernemingsgees en is baie goed afgerig deur die oud-Franse vleuel Patrice Lagisquet. Hulle het stewig in die vaste fasette gestaan, goed hanteer en nie geskroom om die bal wyd te rek nie.

Vir Wallis moes hul vertoning, ondanks die oorwinning, die gevaarligte laat flikker het.

Die Walliesers het ʼn blaadjie uit die Springbokke se boek geneem en kort ná rustyd vyf voorspeler-plaasvervangers opgestuur.

Maar dit het nie veel gehelp nie, want die Portugese het die meeste van die aanvalswerk gedoen.

Daar was min ligpunte vir Wallis, hoewel die slot Christ Tshiunza, die kaptein en flank Jac Morgan, die senter Johnny Williams en die twee vleuels, Louis Rees-Zammit en Rio Dyer, die uitblinkers was.

Wallis speel in dieselfde groep as Australië en Fidji en kan dalk deurskraap tot die kwarteindronde.

Maar kan hulle verder vorder?

Ja, dit was nie hul beste span nie en die losskakel Dan Biggar sal ʼn groot verskil maak, maar daar is te veel leemtes.

Portugal is een van die kleintjies van wêreldrugby en baie kenners het voorspel dat Wallis met meer as 30 punte sou wen, wat nie gebeur het nie.

Puntemakers: Wallis 28 (14): Drieë: Louis Rees-Zammit, Dewi Lake, Jac Morgan, Taulupe Faletau. Doelskoppe: Leigh Halfpenny (3), Sam Costelow.

Portugal 8 (3): Drie: Nicolas Martins. Strafdoel: Samuel Marques.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.