Lyon se hernieude geesdrif kelder moedige Bulls

Lyon vier fees nadat hulle die Bulls met 29 – 28 in Frankryk geklop het. (Foto: Olivier Chassignole/AFP)

ʼn Uitstekende vertoning in die eerste helfte was toe pure verniet nadat die Bulls uiteindelik met 29 – 28 teen Lyon op die Stade de Gerland vasgeval het.

Die Pretorianers het energieke spel in aanloop tot die kragmeting opgedis en Zak Burger het voor rustyd saam met Sergeal Petersen die tuisspan se verdedigers geflous.

Ná 40 minute se spel het die Bulls ʼn voorsprong van 18 – 12 geniet en die span se ondersteuners het beslis geglo dat hulle dié een kon wen.

Daarna was dit ʼn wipplankstryd in die tweede helfte en daar was natuurlik ook ʼn tikkie drama in die doodsnikke van die kragmeting toe die Bulls geglo het dat Lyon die bal uit die speler wat as skrumskakel opgetree het, se hande geklap het.

Die wedstrydbeamptes het egter anders beslis en Lyon se veggees het uiteindelik die besoekers se doppie geklink.

ʼn Paar minute vantevore kon ʼn strafskop ook die wa deur die wedstryddrif vir die Bulls getrek het, maar Jaco van der Walt was onsuksesvol met sy stelskoppoging.

Ja, ʼn mens kan seker oor Mike Adamson se blaservertoning ook kla – ʼn paar Bulls-spelers is immers met onwettige duikslae platgetrek – maar die besoekers het ook ʼn paar foute gemaak.

Daardie kortlynstaanbeweging wat na Yanis Charcosset se drie gelei het, gaan seker nog vir ʼn rukkie by die span spook.

Dit was uiteindelik so naby, maar tog ook so ver vir die Bulls.

  • Puntemakers:

Lyon: Drieë: Ethan Dumortier, Pierre-Samuel Pacheco, Alfred Parisien, Yanis Charcosset en Thibaut Regard. Doelskoppe: Martin Page-Relo en Paddy Jackson.

Bulls: Drieë: Zak Burger, Sergeal Petersen en Marco van Staden. Doelskoppe: Chris Smith (2). Strafskoppe: Smith (3).

  • Groep 1-punteleer:
  1. Bordeaux: 10 punte
  2. Lyon: 8 punte
  3. Saracens: 5 punte
  4. Bristol Bears: 5 punte
  5. Bulls: 4 punte
  6. Connacht: 1 punt.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.