Mbonambi Bokke se ysterman

Bongi Mbonambi isi die Springbok-kaptein vir die wedstryd teen Argentinië in Buenos Aires. (Foto: Geoff Caddick/AFP)

Bongi Mbonambi word beskou as een van die sleutelspelers vir die Springbokke om Saterdag hul wêreldtitel suksesvol te behou.

Hoewel dié 32-jarige Springbok-haker se bynaam “Yster” is, het ’n rugbyafrigter vir hom as junior Springbokspeler gesê hy is té klein gebou om rugby te speel. Sy oupa was wel ’n liggaamsbouer.

Mbonambi is dalk nie fisiek die grootste haker nie – met ’n lengte van 1,77 m en gewig van 98 kg – maar sy veglustigheid en leierskap op die veld vergoed dubbel en dwars daarvoor. Hy neem ook die leisels as kaptein oor wanneer Siya Kolisi nie op die veld is nie.

Sy kanniedood-houding word bevestig deur dié leuse: “As mense vir my sê ek kan nie iets doen nie, sal ek sommer harder probeer om hulle verkeerd te bewys.”

Bongi Mbonambi (Foto:
Jared Wright/X)

Hoewel Mbonambi uitstaande in die 2019-Wêreldbeker-eindstryd was, het hy nóg beter vertoon in vanjaar se Wêreldbeker, waar hy in die kwarteindstryd teen Frankryk as speler van die wedstryd aangewys is.

Die belangrikheid van Mbonambi se rol op die veld word onderstreep deur die feit dat hy die enigste oorblywende spesialishaker in die groep is nadat Malcolm Marx ’n kniebesering opgedoen en nie verder aan die Wêreldbeker-toernooi kon deelneem nie.

“Hy is ’n baie belangrike stuk van ons legkaart; hy is beslis van groot belang vir ons,” het Daan Human, verdedigingsafrigter, gesê.

“Hy is vir seker ook een van ons leiers in die groep.”

Mbonambi is getroud met Anastacia en hulle het ’n dogter, Esa. Hy vertel altyd grappenderwys hoe sy ’n regte “handvol kan wees”.

Die haker is in Bethlehem in die Vrystaat gebore waar sy pa ’n polisiebeampte en sy ma ’n verpleegster was. Hulle was liefdevolle maar streng ouers.

Mbonambi sê hy en sy broers en susters “is geleer om hard te werk vir dit wat ons wil hê” en hy is ’n oudleerder van die St. Alban’s College.

Kleur ‘beteken niks’

Bongi Mbonambi vier die Bokke se oorwinning oor Engeland. (Foto: Twitter/ Springboks)

As jong seuntjie sou Mbonambi in die middae ná skool saam met sy vriende rugby speel met ’n bal wat hulle self prakseer het. Hulle sou koerante in ’n sokkie opstop en in ’n ovaal voorwerp vorm.

“Ons het heeldag op oop grond of in die middel van die straat gespeel tot dit donker geword het. Dit is hoe my eerste liefde vir rugby begin het,” vertel Mbonambi.

“Ek dink rugby het my van die slegste kant van die lewe gered en vir my ’n beter kant gewys.”

Sy ma het erken sy was senuweeagtig oor haar seun wat rugby wou speel. Sy het as verpleegster gesien hoe nekbeserings mense verlam kan laat, vertel Mbonambi.

Die ysterman was die afgelope week in die sop oor ’n beweerde rassistiese opmerking wat hy tydens die Springbokke se kragmeting teen Engeland in die Wêreldbeker-halfeindstryd gemaak het.

Maroela Media het vroeër berig daar word beweer dat Mbonambi in die eerste helfte van Saterdag se sege van 16–15 die Engelse agterspeler Tom Curry ’n “white c**t” genoem het. Wêreldrugby het Donderdag egter bevind daar is onvoldoende bewyse vir dié klag en die saak is gesluit sonder enige stappe teen die Suid-Afrikaner.

“Ek kan jou nou sê daar is geen rassediskriminasie aan hom getoon van sy wit mede-skoolleerders nie,” het sy ma in 2019 vertel.

“Hy het nooit een keer teruggekom om te sê hy is deur enigeen van hulle geboelie, dat daar teen hom gediskrimineer of hy verwerp is nie.

“Kleur beteken niks vir Bongi nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

B-Man ·

Hy dink rugby het hom van die slegste kant van die lewe gered… maar toe kom Curry.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.