Mening: All Blacks kerm, Superrugby sukkel en Engelse klubs trek swaar

Ian Foster. (Foto: Michael Bradley/AFP.)

Verloor is vir niemand lekker nie, maar ek wil vandag begin deur die gekla van Nieu-Seelandse afrigters uit te wys wanneer hulle in Wêreldbekertoernooie verloor of uitgeskakel word.

En dan (seker ook maar uit ʼn posisie van lekkerte na die wen van die Wêreldbeker!) wys ek later in hierdie meningstuk hoe alle Engelse rugbyklubs finansieel noustrop trek.

Vanjaar het die All Blacks se afrigter Ian Foster gekerm ná die Wêreldbekereindstryd, toe die Springbokke naelskraap met 12-11 gewen het. Dis nie soseer oor die afstuur van hul kaptein Sam Cane ná 29 minute van die eindstryd nie, maar oor die sogenaamde “blapse” van skeidsregter Wayne Barnes, wat terloops van oral lof vir sy hantering van die wedstryd gekry het.

Foster het veral gekla dat Kwagga Smith nie gestraf is omdat hy (volgens Foster) by feitlik elke afbreekpunt eers die grond sou geraak het voordat hy omkeerbesit wen nie. En, het Foster bygevoeg, só ʼn strafskop van ver af ná die laaste geval van Kwagga se omkeerbesit, sou waarskynlik die wenpunte van Jordie Barrett se skopvoet gebring het.

Kwagga se laaste beweerde “oortreding” was baie naby aan die 48 m-merk vanwaar Barrett vroeër misluk het. Daardie laaste geval was eerstens nie ʼn oortreding nie, en sou ook nie noodwending drie punte in die laaste minuut beteken het nie!

  • Maar niks word gemeld van hulle twee verbroude skoppe (vyf punte werd) wat die Bokke sou/ kon gekelder het nie.

1995 All Blacks se bewerings

Joel Stransky het die wen-skepskop in die 1995 Wêreldbeker deur die pale gejaag. (Foto: Facebook/All Blacks.)

Gaan ʼn mens terug na 1995, toe die Springbokke op Ellispark danksy ʼn skepdoel van losskakel Joel Stransky hul heel eerste Wêreldbekerreeks gewen het, was daar ook suursop van die All Black-kant.

Afrigter Laurie Mains en die spandokter het beweer die All Blacks is tydens ʼn middagete in hulle hotel “doelbewus” vergiftig.

Dit het heelwat lede van die span verswak, aldus Mains-hulle.

Maar die All Blacks se spanbestuurder, Colin Meads, het die vergiftiging aan ʼn kiem in die melk by hul hotel toegeskryf.

En daar eindig hul kritiek toe! Maar ʼn mens hoor nog, ter verdediging van hul verloorspan, hier en daar van die beweerde, onbewese, “vergiftiging”.

Ou nuus, en ʼn onverwagte eerste SA-titel!

Graham Henry kerm ná 2007-kwarteindstryd

En toe het Graham Henry, die ou suurknol-afrigter van die All Blacks, in 2007 die blaam vir sy span se onverwagse nederlaag teen Frankryk in die kwarteindstryd voor die deur van die skeidsregter Wayne Barnes gelê.

Barnes was die jongste skeidsregter en het in sy eerste Wêreldbekertoernooi geblaas.

Dit was in die dae vóór die televisie-skeidsregter ingestel is, en ek herinner my dat Jonathan Kaplan van Suid-Afrika – een van die grotes nóg – die betrokke vlagman was (vandag word dit ʼn assistent-skeidsregter genoem).

Die Franse het diep uit eie gebied langs die linkerkantse kantlyn af beweeg. Uiteraard was die skeidsregter en vlagman so ʼn meter of ʼn raps meer agter die beweging.

Die ongestrafde laaste aangee, só meen Henry volgens sy outobiografie Throwing the Book, het hy selfs ʼn ruk lank as wedstryd-knoeiery deur Barnes beskou aangesien dit die enigste rede vir die oorsig kon wees.

Barnes sê dat jy iemand miskien nog kan vergewe as dit net na die wedstryd in die hitte van die oomblik gesê word, maar Henry se boek het eers vyf jaar later verskyn – en hy wys daarop dat só ʼn stelling belangrike gevolge vir die spel en die skeidsregter kan inhou.

En wat van die vlagman? En twee manne wat albei, toe en nou, as van die heel beste beskou word?

Nonsens!

Die bogenoemde beweging het tot die wendrie vir Frankryk en ʼn plek in die halfeindstryd gelei.

  • Barnes het onlangs gesê hy het tot vandag nie vir Henry vir die bevraagtekening van sy integriteit vergewe nie en ook nog nooit weer sy hand geskud nie.

All Blacks se eindstryde

Nieu-Seeland se All Blacks doen die Haka (3 Julie 2021) (Foto: Michael Bradley/AFP)

Dit bly ʼn feit dat die All Blacks twee van hul drie Wêrelbekertitels tuis in Auckland gewen het.

Hulle het hul drie titels nog net in die eerste toernooi, in 1987 in Auckland teen Frankryk, en in 2009, ook in Auckland teen Frankryk (9-8), gewen het en die ander titel was teen Australië op Twickenham in 2015.

Die Springbokke, daarenteen, het net hul eerste toernooi in 1995 tuis gewen (nadat hulle die eerste twee, in 1987 en 1991, misgeloop het weens die Internasionale Rugbyraad se skorsing oor ons land se politieke beleid).

Die ander drie Wêreldbekertitels van die Springbokke is in 2007 en 2023 in Frankryk en in 2019 in Japan gewen.

Net twee ander spanne, Australië in 1991 teen Engeland, en Engeland in 2003 teen Australië, het al die Webb Ellis-beker gewen.

Kiwi’s en Aussies sukkel sonder Suid-Afrika

Dit is duidelik dat Nieu-Seeland en Australië se ontslae raak van die Suid-Afrikaanse spanne in Sanzaar se Superreeks, nou vir hulle wrange vrugte tot gevolg het.

Niemand anders nie as Ian Foster, die All Blacks-afrigter wat gal oor die skeidsregter gebraak het nadat sy span ʼn maand gelede die Wêreldbekereindstryd teen die Bokke verloor het, het ʼn waarskuwing aan Nieu-Seelandse rugbybase gerig.

Die nou werklose gewese afrigter meen die All Blacks se interne Super Rugb-yreeks moet ʼn hupstoot kry. Die gehalte is nie wat dit was toe Suid-Afrika nog deelgeneem het nie – en die toeskouerstal het vir die Super Rugby Pacific 2023-reeks, wat benewens Nieu-Seeland en Australië se vyf spanne elk ook verteenwoordigende spanne van Samoa en Fidji insluit, het dramaties gedaal.

Trouens, die beste gemiddelde bywoning per wedstryd van Nieu-Seeland se deelnemende spanne was vanjaar ʼn skamele 14 000.

  • Intussen sukkel die Aussies ook. Hulle borg Harvey Norman het pas onttrek, en Rugby Australië moes ʼn lening van A$80 miljoen (sowat R990 miljoen) aangaan om die spel en veral ontwikkeling aan die gang te hou.

SA Rugby

En in Suid-Afrika gaan dit eintlik naby aan baie goed.

Daar was wel ʼn klein verlies van R2,62 miljoen voor belasting in 2022, hoofsaaklik toe te skryf daaraan dat SA Rugby nog nie die vrugte van hul oorsese skuif na die Noorde kon begin pluk nie. Die deelname aan die Verenigde Rugbykampioenskap en die Europese professionele klubrugby-kompetisies het sowat R330 miljoen gekos, maar uitsaairegte (R828 miljoen) en borgskappe (R396 miljoen).

Die bruto-inkomste het ʼn hupstoot gekry deur die inkomste uit Wallis se toetse hier in 2022 en die feit dat ʼn volle reeks van die Sanzaar Rugbykampioenskap gespeel is.

SA Rugby sal eers na die 2024/25-Europese seisoen ten volle uit hul skuif begin wins maak.

Geldverknorsing by Engelse Premierliga

Harlequins is een van Engeland se rugbyklubs. (Foto: Twitter.)

En in Engeland het elkeen van hul oorblywende 13 klubs in die Premierliga na die 2021/22-seisoen ʼn verlies getoon. (Verlede jaar het drie klubs bankrot gespeel en kon nie hul verpligtinge nakom of spelers betaal nie.)

Trouens, agt van die 13 klubs moes die afgelope jaar van hul aandeelhouersfondse gebruik om aan die gang te bly. En ons praat hier van groot geld.

  • Bristol se £29,8 miljoen (meer as R707 miljoen) was die grootste bydrae wat die eienaar/ aandeelhouers aan ʼn klub moes betaal.

Die sterk Harlequins moes £12,7 miljoen (sowat  R300 miljoen) van sy aandeelhouersfondse gebruik.

Die grootste verlies in 2021/22 was dié van Wasps (£7,4 miljoen, oftewel sowat R175 miljoen).

(Die syfers vir die Engelse klubs se 2022/23-seisoen is nog nie beskikbaar nie.)

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

19 Kommentare

Johan Botha ·

Die Kiwis word afgerig om vuil te speel en die skeidsregters te intimideer. Hulle was nog nooit ware rugby kampioene nie en totdat hulle perspektief rondom die spel verander sal hulle nie gerespekteer kan word nie.

Ore ·

Ja nee, die gekerm raak te erg. Hy meld ook niks van die vorentoe aangee wat gelei het tot hulle drie nie.

Abraham ·

Johan Botha reg! Hulle was in die verlede goed omdat die skeidsregrers hulle goed laat lyk het. Telkens wanneer hulle op merite behandel is het hulle tekort geskied en daarna ten hemele gekla oor skeidsregters.

Kuver ·

Droom aan Wim het SA verloor het ou rassie en kie weer honderde video’s gemaak en elke ondersteuner sou 100 maal erger as die Kiwi’s gekla het, sa was gelukkig die tmo het altyd ingemeng om sa te help, en oor sa rugby as jy geluukig is dat 3 spanne slegs van 9de af onder toe is, dan is jy maar met min tevrede, en die oorwinnings wat die sa spanne gehad het was teen spanne onder aan die punte leer, so kom oor jouself.
Nou Johan, jou bokke is van die vuilste spelers in rugby en dit is al vele kere bewys, so ek wonder wie leer hulle so wag ek wonder nie ek weet….dis ondersteuners soos jy wat suur druiwe oor elke verloor is

electricmango ·

En hulle het nie eens kwotas om te voldoen aan nie. Siestog, soos die cancer reken; deelname is belangriker as wen. Hahahahahahahahaha

Manie ·

Kuver, die All Blacks het behalwe Frankryk en Ierland ‘n redelike maklike pad finaal toe gehad. 1.Frankryk, 2.Namibia, 3.Italië, 4. Uruguay, 5. Ierland-1/4 finaal, 6. Argentinië semi finaal, 7 SA in die finaal.

Arend ·

AB ondersteuners en media is slegte wenners. Nog slegter verloorders.

Elma ·

Watter verloor ou Kuver?? unlike die suur AB’s, wen ONS Bokke die grotes né.

Kirst ·

Wat haat die AB meer as verloor? Om teen die Springbokke te verloor lyk my.

kragaap ·

Volgens die All Blacks en hul afrigters en ondersteuners moet die all blacks reeds die wedstryd gewen het as die haka klaar is. Skielik is hul glad nie meer so intimiderend as hul dink hul is nie of so goed soos hul ondersteuners dink hul is nie. Die aura begin vervaal. Nou soek hul verskonings, van Suzie in ’95 tot die skeidsregter in 2023. Eintlik maar net swak sportmanskap.

kragaap ·

Ag ou kuver wonder hoe sou NZ klubrugby teen die top Europese of SA spanne gevaar het ? Hul speel nou so baie teen mekaar hul weet al wie van hul ondersteuners sit waar op die pawiljoen. Een stap verder, hoe sou hul is in die ses nasies reeks gevaar het ? Ook die ref blameer as hul op ‘n Sondagmiddag teen Skotland of Wallis verloor het ? Die bokke speel nie vuil nie, net hard. Daarom haat die ander spanne om teen die bokke te verloor. Dis die fisiese intimidasie en dominansie wat julle AB ondersteuners en cape maori’s nie kan vat nie. Ons sê “hier kom die bokke”…..

Treurwilger ·

Daar mag veel waarheid steek in die dinge wat in hierdie stuk geskryf word, een feit staan egter soos ‘n paal bo water:
Wanneer die Kaptein van een van die spanne in ‘n Rugby Wêreldbeker Finaal, die Kroon van die sport elke vier jaar, met ‘n rooikaart van die veld gejaag word, is dit ‘n tragiese laagtepunt vir die hele rugbygemeenskap wêreldwyd.
En as dit nié is nie, behóórt te wees.
‘n Verdere laagtepunt is wanneer die finansiële verknorsing van opponente vreugde verskaf.
Rugby as ‘n sport staan só gevaar om dood te bloei.
Laastens, SA en Rassie, met sy geskiedenis, is die laaste mense wat oor swak sportmanskap kan praat.

Casper ·

Wayne Barnes,Nigel Owens,Steve WelchJonathan Kaplan en Craig Joubert was van die bestes van die bestes maar ongelukkig het Barnes twee lelike blapse begaan,Faf de Klerk se aanslaan agter ‘n skrum en dan die grootte,Etzebeth se voorarm stamp in een van die All Blacks se gesigte was sonder twyfel ‘n rooikaart,maar ongetwyfeld suig die bokke altyd aan die agterste speen so ons kort ook bietjie geluk.

Treurwilger ·

Iets waaroor enige rugbyliefhebber bekommerd oor moet wees, is dat die afrigter van Italië gesê het hulle kan nie kompeteer met die brute krag van spanne, wat op een hand getel kan word nie.
Italië was juis ‘n suksesverhaal met die ontwikkeling en uitbreiding van die klein poel rugbylande.
Die stampkar-stootskraper-styl van rugbyreuse doen niks vir die sport nie. Inteendeel.

Republikein in die Wes Kaap ·

Super Rugby bly steeds die aanskoulikste en hardste klub reeks in wêreldrugby. URC is substandaard. Die Europese spanne stuur hul derdes om twee wegwedstryde hier te speel, in die hitte. Dan word die plaaslike skrywers lieries oor groot oorwinnings. Franse en Engelse klubs betwyfel SA franchises se deelname aan die Heineken bekers. NZ se rugby is kerngesond, maar groot geld trek hul beste talent. En spelers wat in die buiteland speel word nie vir die ABs oorweeg nie, tensy NZ Rugby die groenlig gee. Wim moet eerder ‘n voorskou gee van die nuwe balletseisoen in die Staatsteater. ‘n Paar kommentators hier sal dit waardeer.

Republikein in die Wes Kaap ·

Treurwiger, die stampkar era is verby. NZ het dit in die eindstyd bewys. Selfs met 14 spelers het hulle gate deur SA gehardloop. Volgende seisoen sal Erasmus met ‘n nuwe plan moet kom. Maar sy grootste probleem is spelers wat sukkel met die gevolge van langtermyn beserings, veral houe teen die kop. En dít gaan nog ‘n finansiële nagmerrie word vir SA Rugby.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.