Moenie Ierland onderskat vir Wêreldbeker

Ierland is deesdae gedugte teenstanders op die internasionale verhoog. (Foto: Twitter.)

Vergeet maar vir eers van Lord of the Dance, duur bier en indrukwekkende kastele met mosbedekte mure; Ierland is deesdae net so bekend vir sy rugbyspan se welslae as enigiets anders.

Die Iere is tans die topspan op Wêreldrugby se punteleer, terwyl plaaslike klubs soos Leinster, Ulster, Connacht en Munster ongetwyfeld kragte is waarmee daar rekening in Europese toernooie gehou moet word.

Johnny Sexton en kie het die afgelope naweek met ʼn Franse span afgereken wat met spelers soos Antoine Dupont, Romain Ntamack en Damian Penaud gespog het.

Moet ook nie dink die Iere se ambisie strek net so ver as die Sesnasies nie. Aikôna, hulle het vir seker ook planne om die Webb Ellis-trofee omhoog te hou. Maar het hulle wat dit vat om die druk van ʼn Wêreldbeker te hanteer?

Die Iere vaar immers nie té waffers by Wêreldbekertoernooie nie en in agt probeerslae kon hulle nog nooit verder as die kwarteindstrydronde vorder nie.

Ierland het weliswaar teen die All Blacks in die vorige Wêreldbeker-toernooi verloor, maar hulle het onlangs met die reekslouere in Nieu-Seeland weggestap. (22 September 2019) (Foto: AP Photo/Christophe Ena)

In 2019 het hulle tweede in hul groep in Japan geëindig, maar hulle het sleg in die kwarteindstryd teen die All Blacks verloor; ʼn eindtelling van 46 – 14 sou beslis enige ondersteuner aan sy Guinness-bier laat stik het.

Hoewel Kobus Wiese meen dat Frankryk die gunstelingspan is om binnekort met die Wêreldbeker-louere op hul tuisveld weg te stap, sorg Ierland se veggees dat hulle altyd gedugte teenstanders is.

“Hulle skram nie weg van ʼn fisieke tweestryd nie, hulle speel tegnies baie goeie rugby en hulle het gewys dat hulle drieë kan druk. Ek dink Ierland het ongetwyfeld hul spel gelig en, met die oog op die Wêreldbeker, is hulle besig om op die regte tyd vlam te vat,” het die voormalige Springbok-slot gesê.

Stefan Terblanche, voormalige Bok-agterlynspeler, glo Sexton en sy span is beslis goed genoeg om die silwerware omhoog te hou en na hul beroemde reeksoorwinning teen die All Blacks in Nieu-Seeland verwys om sy punt te staaf.

“Vanjaar geniet Ierland weer ʼn uitstekende aanloop tot die Sesnasiesreeks. Hulle weet hoe om rugby te speel, hoe om te wen én hulle is goed afgerig. Daarbenewens dis hulle gereeld kreatiewe spel op en die skakelpaar se besluitneming is baie goed,” het Terblanche gesê.

Benewens sy 37 toetse vir Suid-Afrika en sy magdom wedstryde vir die Sharks, het Terblanche ook 16 keer vir Ulster uitgedraf.

Ierland se Johnny Sexton (Maart 2022) (Foto: Glyn Kirk/AFP)

Hy beskou juis vir Sexton as een van die Iere se gevaarmanne. Die deurwinterde losskakel – wat reeds in 111 internasionale toetse gespeel het – is een van ʼn rits spelers wat vir Ierland ʼn ervaringhupstoot gee. Voeg daarby sy 1 034 punte en jy sit met ʼn slinkse rugbyman wat nie sommer vir ʼn koue pampoen op die veld skrik nie.

“In ʼn neutedop – Ierland is ʼn kwaliteitrugbyspan en hulle het gewys dat hulle die beste span ter wêreld kan klop. Of hulle dit vir ses weke in Frankryk kan volhou, is egter ʼn ope vraag, maar een ding is seker: Hul spelpeil op die vooraand van die Wêreldbeker is die beste wat dit nog was en as Sexton hou, staan hulle ʼn definitiewe kans,” sê Terblanche.

Moet egter ook nie van die spel van ʼn Josh van der Flier (Wêreldrugby se speler van die jaar), Garry Ringrose, Conor Murray en Tadgh Furlong vergeet nie.

Ierland meet juis op 23 September kragte teen die Springbokke op Stade de France en hulle het reeds ʼn sielkundige vuishou geplant toe hulle die jaareindtoets in Dublin gewen het.

Ja, Bok-ondersteuners kon toe tereg oor skeidsregter Nika Amashukeli se hantering van die wedstryd kla, maar die geskiedboeke sal wys dat Ierland die wedstryd met 19 – 16 gewen het.

“As jy vir Ierland wil kop, sal jy jou kanse moet benut en hulle voorlangs oorheers,” was Wiese se waarskuwing.

En indien die Suid-Afrikaners nie op hul beste in September is nie, kan hulle krokodiltrane in Parys huil. Want, anders as wat “Hie’ kommie Bokke” se lirieke ʼn mens wil laat glo, plant die Iere lank reeds nie meer net bomme by hul bure nie.

Hulle wen rugbywedstryde ook.

Spelers in die Ierland-groep met meer as 40 toetse agter die blad:

  • Voorspelers: Cian Healy (121 toetse), Peter O’Mahony (91 toetse), Iain Henderson (70 toetse), Tadgh Furlong (63 toetse), Dave Kilcoyne (50 toetse), Andrew Porter (50 toetse) en James Ryan (50 toetse).
  • Agterspelers: Johnny Sexton (111 toetse), Conor Murray (102 toetse), Keith Earls (98 toetse), Garry Ringrose (49 toetse) en Bundee Aki (43 toetse).

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Pieter9 ·

Geen rugbyspan het ‘n antwoord met Johnny Sexton nie; hy staan diep, dan weer vlak, het al die tyd in die wereld om dwars of kort-skoppies oor die agterlyn te maak. Hy dikteer die spel. Met hom daar sal Iere die wereldbeker wen. Die span wat’n plan met hom kan maak se kanse is groot om die w/b te wen. Dit lyk egter nie of daar ‘n afrigter is met die kundigheid om dit te kan doen nie.

George ·

Ek het nog nooit iemand gehoor Ierland onderskat nie, inteendeel.

Boer ·

Ierland het ook die vorige wêreldbeker as een van die gunstelinge in gestap nadat hulle NZ geklop het. Hulle piek altyd te vroeg, ek bly by my bealuit dat bokke die wêreldbeker gaan wen.

Mossie ·

Ierland is ‘n gevaarlike span. Maar ek dink nog steeds die Bokke gaan geskiedenis maak om die beker weer te vat.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.