Mooipraatjies sal niks help nie

SA Rugby logo cropʼn Week is ʼn lang tyd in rugby, veral in Suid-Afrikaanse rugby.

Verlede Woensdag in Kaapstad het die Springbokafrigter, Allister Coetzee, ʼn donker prentjie geskets in sy openingstoespraak tydens die tweedaagse beraad oor die toekoms van Springbokrugby.

Suid-Afrikaanse ondersteuners leef in ʼn droomwêreld, het hy gesê en die nodige statistieke aangehaal. Die Bokke kan glad nie kers vashou by die All Blacks nie en die Bokke vaar ook sedert 1996 swakker as die Wallabies.

Coetzee se afrigtingspan is oplaas aangevul met die Vrystaat-Cheetahs se Franco Smith, JP Ferreira van die Lions en die oud-Bok-losskakel Louis Koen, wat na die skopwerk moet omsien.

Johan van Graan, een van Coetzee se hulpafrigters, het Woensdag by die mediakonferensie gesê dat hierdie nuwelinge briljant ingeskakel en reeds baie waarde toegevoeg het.

Dit het by laat terugdink aan 1993, toe prof John Williams deur Ian McIntosh as Bok-afrigter vervang is nadat die Bokke in 1992 deur die All Blacks (27-24), Wallabies (26-3), Frankryk (20-15) en Engeland (33-16) geklop is. Die Bokke het darem een toets teen die Franse met 29-16 gewen, maar teen die res sleg afgesteek.

Mac bring vernuwing,  hy voeg baie waarde toe en trek soos ʼn vars briesie deur die span, is daar gesê nadat hy die Bokke vir ʼn paar dae op Loftus Versfeld onder die hande geneem het.

Maar hy het swak afgeskop en die reeks van twee toetse teen Frankryk (0-0 en 17-18) verloor. Die Bokke is in 1993 ook twee keer deur die Wallabies geklop en toe hulle in 1994 deur Engeland in die eerste van twee toetse verslaan is en ook die reeks teen die All Blacks verloor het, was Mac se dae getel.

Kitch Christie het oorgeneem: vernuwing, hy voeg baie waarde toe, hy trek soos ʼn vars briesie deur die span …

En só kan ons aangaan, ook toe Carel du Plessis, André Markgraaff, Harry Viljoen, Rudolf Straeuli, Jake White, Peter de Villiers, Heyneke Meyer en Coetzee oorgeneem het.

Soos die Engelse sou sê, ‘die bewyse is in die poeding’.

Mooipraatjies sal nie help nie. Dit is of daar wérklike vordering gemaak is,  en hoe die Bokke die volgende paar weke sal speel.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

callie ·

Die einde van jaar toer sal laaste wees waarop ek en heelwat vriende van my ons geld gaan mors om verder enige rugby in SA te kyk en te ondersteun. Allister maak dit glad nie, nou word manne Franco, Koen en Ferreira ingebring om te help. Dalk werk dit en doen bokke nie te sleg nie. Vraag is wat daarna. Die span mag nog steeds in die volgende wereldbeker maksimum 50% wit wees. Enige regdenkende mens sal besef dat daar geen moontlikheid bestaan dat SA dan onder die eerste 5 lande in wereldrugby sal kom nie.
As Allister nie die “guts” het om SA rugby teen te gaan nie, gaan hy nog meer vernederings soos teen die All Blacks, oor SA bring. Sterkte met die kwotas. Onthou, tot WP kry nie eers kwota toeskouers nie. Hul bywoning het vir die jaar geval met R5Miljoen.

De Villiers ·

Volgens my is daar 2 groot redes vir ons Bokke se swak vertoning die afgelope paar jaar. 1) Kwotas. Die sterkste span sal nooit op die veld verskyn solank demografiese verteenwoordiging op die veld voorrang kry bo meriete. Ek dink dit verswak die spansterkte met ten minste 30%; 2) Swak spankeuses. Die Curriebeker span wat domineer, moet die kern van die Springbokspan vorm. Tydens die wêreldbekertoernooi in 2011 was net 2 Lion-spelers vir die span gekies, maar die Lions wen die Curriebeker oortuigend. Dieselfde met 2015 se Springbokspan vir die wêreldbekertoernooi waar GEEN Lion-speler gekies is nie, maar die Lions wen die Curriebeker weer. Dan die afgelope toetsreeks met Allaister in beheer waar hy net 2 Cheetah-spelers kies, maar die Cheetahs wen die Curriebeker.

Dit help nie om die probleem te omseil met statistieke van die verlede en mooi praatjies nie. Spreek die regte probleme aan.

Poot ·

Ag neewat DeVilliers…..jou opinie is lagwekkend. Die leeus het die Super reeks oorheers en in die finaal gefaal. die afgelope seisoen was die bokspan VOL leeus spelers en waar het dit ons gebring? Die Cheetahs kon nog NOOIT hul gewig gooi in die super reeks nie. Currie beker eindstryde is nie ‘n maatstaf vir springbok spelers nie.
Die probleem lê by die afrigting, eentonige, verbeeldinglose en steriotipe spelpatroon. PUNT.
Weet AC ooit waar sit ‘n rugbybal se naat?

De Villiers ·

Nee wat Poot, ek verskil van jou. My standpunt is logies. Gaan kyk maar na die Curriebeker- en Superreeks spanne wat gedurende 1995 en 2007 gedomineer het, en waarvan die kern van die Springbokspanne gekies was. Albei jare het ons die Wêreldbeker gewen. Of was dit blote toeval?

Nico K ·

Ek stem ongelukkig saam met Allister. Sedert 1992 wen ons slegs ‘n derde van alle wedstryde teen NZ. Teen Australië daar anderkant wen ons ook slegs ‘n derde. Dit het niks te doen met afrigting nie. Soos in die hoofartikel gesê is, ons het al te veel afrigters afgedank omdat ons nie goed doen nie. En dit help niks. Dit is so goed Samoa dank elke keer hul afrigter af as hulle teen SA verloor. Ja, ons kan NZ wen, maar ons gaan altyd meer teen hulle verloor as wen. Punt.

Poot ·

De Villiers
En wat van die wêreld beker toernooie na 2007? Ek verstaan wat jy sê met spelers wat goed doen in die Currie beker. Maar om die kern van die span te gebruik vir die bokspan stem ek nie mee saam nie. Currie beker en toets rugby is op 2 verskillende planete waar dit kom by tempo en intensiteit. Ons probleem lê by afrigting. Kom ons sê AC vat die kern van die Cheetahs….dink jy ons gaan ‘n bok span hê wat ammok maak. Ek twyfel sterk. NZ is net op ‘n ander vlak as wat ons ooit sal wees. hulle sal ons ALTYD 1 voor wees waar dit kom by inovasie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.