Morné sal CB-span môre lei

Morné Steyn duik oor vir ’n drie. Foto: GB Jordaan.

Net voor die Verenigde Rugbykampioenskap-storm kom, is daar eers ’n Curriebeker-wedstryd tussen die Blou Bulle en die Westelike Provinsie in Pretoria.

Morné Steyn sal op 37-jarige ouderdom die tuisspan op Loftus Versfeld aanvoer, terwyl hy ook op die ervaring van Bismarck du Plessis kan steun.

Volgens Gert Smal (die Bulle se Curriebeker-afrigter) is dit vir die Pretorianers belangrik om goed teen die Streeptruie te vertoon.

Benewens Steyn en Du Plessis het hy ook vir David en Richard Kriel saam met James Verity-Amm en Stedman Gans tot sy beskikking.

“Ons weet waartoe die Westelike Provinsie in staat is en hulle sal oorgehaal wees om weer op die wenpad te kom. Ons sal op ons beste moet speel as ons wil aanhou om druk op topspanne soos die Cheetahs te plaas,” het Smal gesê.

Elrigh Louw op die aanval. Foto: GB Jordaan.

Intussen het een van die opwindendste losvoorspelers in die land, Elrigh Louw, aangedui dat hy in Pretoria sal aanbly.

Hy het sy kontrak met vyf jaar verleng.

“Ons glo dat Elrigh ongetwyfeld ’n toekomstige Springbokspeler is wat in baie toetse sal speel. Dit is wonderlik om te sien dat só ’n talentvolle speler gekies het om in Suid-Afrika aan te bly, ondanks die belangstelling van oorsese klubs,” het Jake White, die Bulls se direkteur van rugby, gesê.

Die wedstryd teen die WP begin Woensdag om 20:00 en die aksie sal regstreeks op SuperSport uitgesaai word.

Blou Bulle: James Verity-Amm (heelagter), David Kriel (regtervleuel), Stedman Gans (buitesenter), Marco Jansen van Vuuren (binnesenter), Stravino Jacobs (linkervleuel), Morné Steyn (losskakel en kaptein), Keagan Johannes (skrumskakel), Muller Uys (agtsteman), WJ Steenkamp (flank), Jaco Labuschagne (flank), Janko Swanepoel (slot), Rynhardt Ludwig (slot), Robert Hunt (stut), Bismarck du Plessis (haker) en Simphiwe Matanzima. Plaasvervangers: Joe van Zyl, Lizo Gqoboka, Sebastian Lombard, Raynard Roets, Werner Gouws, Juan Mostert en Richard Kriel.

  • Jongste Curriebeker-punteleer:
  1. Cheetahs 26 punte
  2. Blou Bulle 25 punte
  3. Sharks 18 punte
  4. Griekwas 15 punte
  5. Pumas 10 punte
  6. WP 7 punte
  7. Leeus 2 punte

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

kaplyn ·

Maar het hy nie ‘n rooi kaart ontvang en mag vir ses weke nie speel nie? Of kan hy maar speel net omdat hy ‘n blou bul is?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.