Die span is Saterdag bepaal wat die Namibiese Rugbyunie (NRU) in die SA Rugbyunie (Saru) se internasionale oopklubreeks om die Goue Beker (GB) sal verteenwoordig.
Wanderers van Windhoek het seker gemaak hy is die enigste oop klub in die eindstryd van die NRU se Premierliga toe hy Westelike Voorstede in ʼn kwaai stryd met 24-22 getroef het.
Die Universiteit van Namibië (Unam), wat nie vir die GB-reeks in aanmerking kom nie, het Walvisbaai in die ander halfeindstryd koelbloedig met 44-0 uitgeskakel.
Wanderers en Unam se tweede spanne bots insgelyks eerskomende Saterdag in die Hage Geingob-stadion in Windhoek in die eindstryd van die Reserweliga.
Die krag van plattelandse rugby in Namibië lê ooglopend in die Noorde, met die voorste twee spanne in dié streek, Grootfontein en die Etosha Lions, wat die eindronde van die Eerste Liga uitspook.
Grootfontein het die Weste se kampioen, West Coast Sharks van Swakopmund, met 50-28 oorrompel; en Etosha het op sy beurt die Suide se kampioen, Ocean Swallows van Luderitz, met 57-17 verniel.
Etosha het op pad na die halfeindstryd ook ʼn uitspeelwedstryd teen Eastern Bulls van Gobabis gewen.