Nienaber gepols oor Etzebeth, Rassie se ligte

Kurt-Lee Arendse druk nog ‘n drie tee Skotland. (Foto: Twitter/ Sprinboks)

Die Springbok-breier, Jacques Nienaber, het sy span lof toegeswaai na hul oorwinning oor Skotland Sondag en gesê dit is die “eerste stap in die regte rigting”.

Die Bokke het die Skotte Sondagaand in hul eerste Wêreldbeker-wedstryd vir 2023 met 18 – 3 geklop. Nienaber het na afloop van die wedstryd gesê dit was ʼn moeilike wedstryd, maar ʼn positiewe begin vir die verdedigende kampioene. Hy moes ook ‘n paar moeilike vrae beantwoord oor die gebruik van verkeersligte om met beamptes op die veld te kommunikeer, sowel as Bok-slot Eben Etzebeth se skouerbesering.

“Ons het altyd geweet dit gaan ʼn taai stryd wees, so hierdie is ʼn stap in die regte rigting. Ons fokus nou op ons wedstryd teen Roemenië en dink nog nie eers aan Ierland nie.” Suid-Afrika speel komende Sondag om 15:00 teen Roemenië.

Nienaber het die Skotte ook krediet gegee vir uitstekende verdediging. “Hulle speel met baie spoed en innovasie wanneer hulle op die aanval is, so ons moes baie skerp wees om hulle opsies te beperk. Ons spelers het die afgelope week baie hard op én van die veld af gewerk om hulle op ʼn afstand te hou.”

Oor die Bokke se skrum het kaptein Siya Kolisi gesê, “Ons het nie weggespring soos ons gewoonlik doen nie en teen halftyd het ons ooreengekom ons moet beter doen, want die vaste fasette is vir ons baie belangrik.”

Hy het ook losskakel Manie Libbok se drie misskoppe verdedig. “Ons speel as ʼn span. So as jy op die dag sleg speel, vat iemand anders oor. Hy gaan nie elke dag goed wees in alles nie. Dis hoekom ons saam werk. Ons is nie bekommerd daaroor nie.”

Rassie Erasmus se gebruik van verkeersligte om met die mediese span te kommunikeer, iets waarvoor dié hoof van Suid-Afrikaanse rugby as afrigter van die Vrystaat onder skoot gekom het, het weer wenkbroue laat lig.

Op ʼn vraag oor of dit ʼn taktiese doel het, het Nienaber gesê: “Dis ʼn metode wat ons by Munster in 2016 gebruik het en wat ons gister weer aangewend het. Dit het niks te doen met taktiek nie, dis bloot ʼn maklike manier om met die mediese span oor beserings te kommunikeer.” Volgens Nienaber was dit nie nodig om vooraf by Wêreldrugby toestemming te kry om dit te gebruik nie.

Oor die slot Eben Etzebeth se skouerbesering het Nienaber gesê hulle sal eers weet hoe ernstig dit is nadat hy behoorlik deur ʼn dokter ondersoek is. Etzebeth is Sondag, 26 minute in die spel in, van die veld af weens die besering.

Indien hy ʼn paar wedstryde sal moet misloop, sal dit weliswaar ʼn groot verlies vir die Bokke wees.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Manie ·

Dalk speel hulle kop speletjies met Etzebeth, want hy het nie ongemaklik gelyk nie.

Kirst ·

Die ligte is vir seker nie om met mediese personeel te kommunikeer nie. Hy het vir hulle gewys om pale te skop.

SjN ·

Libbok was verward en gereken hy moet na die lig korrel en nie na die pale!!

Kiepie ·

Makliker om deur middel van ligte te kommunikeer as met daai tweerigting radiotjies in hulle ore? Nee maar reg dan.
Ek wonder of Nienaber nie soos ‘n 5de wiel aan die wa voel nie. Almal kan sien Rassie slaan steeds die kitaar.

Harley Davidson ·

Die chekers span doen nogal goed verstaan ek nie dat ek hulle ondersteun nie.

miche ·

Daai turkoois hempies is mooi vir kinderrugby maar dra nie veel by tot die GEES van ‘n Wêreldbeker nie. Bring terug ons groen asb.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.