Nienaber kies sy span wat Leeus moet tem

Jacques Nienaber het sy span vir die eerste toets teen die Britse en Ierse Leeus gekies. Foto: Phill Magakoe/AFP.

Jacques Nienaber het ’n sterk span vir die eerste toets teen die Britse en Ierse Leeus in Kaapstad gekies met 21 Wêreldbeker-wenners in die groep van 23.

Siya Kolisi het genoeg van Covid-19 herstel om die span aan te voer, terwyl Handré Pollard sy 50ste toets vir Suid-Afrika sal speel.

Dieselfde agterspelergroep wat twee jaar gelede vir Engeland getroef het om die Webb Ellis-trofee omhoog te hou, is vir die wedstryd gekies met Makazole Mapimpi en Cheslin Kolbe wat vir ’n opwindende vleuelkombinasie sorg.

Voorlangs sal die veelsydige Kwagga Smith die beseerde Duane Vermeulen se skoene op agtsteman moet volstaan, terwyl Ox Nche saam met Bongi Mbonambi en Trevor Nyakane in die voorry sal sak.

Volgens Nienaber is hy optimisties dat sy spelers hul man teen die gekombineerde mag van die Britse en Ierse Leeus sal kan staan. Die drie voorbereidingswedstryde – teen Georgië, die besoekende Leeus-span en die Blou Bulle – het ook hul doel gedien.

Handre Pollard in aksie. Foto:. (AP Photo/Florencia Tanjun)

Die Bokke het die eerste toets teen Georgië met 40 -9 gewen, terwyl ’n sterbelaaide SA A-span Warren Gatland se spelers getroef het. Dinge wou egter nie heeltemal teen die Bulle reg loop nie en die Pretorianers het die Skim-bokke met 17-14 gewen.

Die voormalige Springbok-vleuel, Bryan Habana, het juis ná daardie wedstryd gesê dat ’n hele paar spelers hulself uit die toetsspan gespeel het.

“Ons het ons spankeuses deeglik beplan en dit was belangrik om ’n derde voorbereidingswedstryd te speel nadat die tweede toets teen Georgië gekanselleer is. Ons weet wat die spelers wat ons gekies het op die veld kan doen,” het Nienaber gesê.

“Die feit dat die meeste spelers deel van die Wêreldbeker-veldtog was, beteken dat hulle mekaar goed ken. As afrigters weet ons ook wat om van elkeen te verwag.”

Hy voorspel ’n fisieke stryd teen die besoekers.

“Die stryd tussen die voorspelers gaan ongelooflik taai wees; daarom is dit belangrik dat ons sommer vroeg reeds ons stempel op die toer afdruk en ons teenwoordigheid by die afbreekpunte laat geld.”

  • Die wedstryd begin Saterdag om 18:00 en sal regstreeks op SuperSport uitgesaai word.

Springbokke teen Britse en Ierse Leeus: Willie le Roux (heelagter), Cheslin Kolbe (regtervleuel), Lukhanyo Am (buitesenter), Damian de Allende (binnesenter), Makazole Mapimpi (linkervleuel), Handré Pollard (losskakel), Faf de Klerk (skrumskakel), Kwagga Smith (agtsteman), Pieter-Steph du Toit (flank), Siya Kolisi (flank en kaptein), Franco Mostert (slot), Eben Etzebeth (slot), Trevor Nyakane (stut), Bongi Mbonambi (haker) en Ox Nche (stut). Plaasvervangers: Malcolm Marx, Steven Kitshoff, Frans Malherbe, Lood de Jager, Rynhardt Elstadt, Herschel Jantjies, Elton Jantjies en Damian Willemse.

Springbokspan wat in 2019 in die WB-eindstryd gespeel het: Willie le Roux (heelagter), Cheslin Kolbe (regtervleuel), Lukhanyo Am (buitesenter), Damian de Allende (binnesenter), Makazole Mapimpi (linkervleuel), Handré Pollard (losskakel), Faf de Klerk (skrumskakel), Duane Vermeulen (agtsteman), Pieter-Steph du Toit (flank), Siya Kolisi (flank en kaptein), Lood de Jager (slot), Eben Etzebeth (slot), Frans Malherbe (stut), Bongi Mbonambi (haker) en Beast Mtawarira (stut). Plaasvervangers: Malcolm Marx, Steven Kitshoff, Vincent Koch, RG Snyman, Franco Mostert, Francois Louw, Herschel Jantjies en Frans Steyn.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Hendrik Marthinus ·

Stem nie saam met die voorry nie, sou ten minste Kitshoff begin het.
Ook nie Mapimpi wat geen rugby gespeel het die afgelope ruk nie, selfs De Jager wat reserwe is Sal ek nie gekies het nie. Die man glad nie rugby gespeel die jaar nie, so ons gamble met n Paar spankeuses.
Hoop maar dit byt nie die span aan die hakskene Kom Saterdag nie

Anoniem ·

Oepsie, Nyakane se kop gaan weer in sy agterent gedruk word, onervare Nche moet teen Tadgh Furlong, die beste vaskop ter wêreld sak, Kolisi is dalk nommer 4 in sy posisie in die land, Kwagga Smith raak weg op die groot verhoog en is nes Kolisi ‘n skadu van 3 jaar gelede. Die Leeus sal bly wees oor hierdie beginspan.

piet ·

Ek sien twee probleme: dis nie die regte begin-voorry nie EN die lostrio. Kan nie Kolisi en Kwagga saam kies nie, beide speel los. Ons gaan die breekpunte verloor. Ons gaan sukkel daar. Van Staden sou ‘n beter keuse gewees het. As Gatland slim is, moet hy net twee baljagters kies dan is dit nag vir ons. Ons kan hierdie toets verloor weens swak spankeuses in baie belangrike areas van die spel.

Kobus ·

Lekker as jy kaptein is. Jou plek is geboek,maak nie saak of jou spel op standaard is nie. Almal watCovid gehad het,ek inkluis kla van gedurige moegheid / tamheid. Ek is ook baie fiks. Hoe werk dit dat die spelers uit isolasie kom en wedstryd fiks is?

B-Man ·

Wat soek ou Elton nog daar? Wanneer gaan hulle besef dat die man nie goed genoeg is nie? Goosen het hom totaal-en-al oorskadu.

Harley Davidson ·

Dit is miskien sy beste span beskikbaar,die beste spelers speel in die vrye wêreld waar hulle nie onderwerp word aan kwota sisteme gebaseer op velkleur nie.

SjN ·

Dit is seker sleg vir iemand om gekies te word op grond van sekere reels en weet jy is nie nie beste nie.

piet ·

Ons het 2 ekstra agterspelers – Kwagga (ekstra losskakel) en Kolisi (ekstra vleuel). PSduT sal die hele lostrio moet verteenwoordig. LOL. Ek sien Curry is gekies vir die Leeus, ‘n spesialis baljagter. Hier kom moeilikheid.

Casper ·

Die skeidsregter gaan ‘n kardinale rol speel veral by die afbreek punte waar hulle meesters is om ie bal op die grond te speel die dal stadig te maak en onkant te lê.By die dryfmaalbewegings is hulle konstant onkant en hulle het die kuns vervolmaak om die dryfmaalbewegings te laat val.Hulle is ook stamperig en stoterig om reaksie van die bokke uit te lok .Hulle verdediging is rotsvas en hulle agterlyf is vinnig.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.