Nienaber meen Bok-balans is reg

Die Springbok-afrigter Jacques Nienaber. (Foto: Twitter/Springbokke)

Arme Matt Williams kon seker nie gisteraand aan die slaap raak nie nadat hy die name op die Springbokke se plaasvervangersbank gelees het.

Jacques Nienaber en kie het die Bokke se reserwekrag weer met voorspelers gelaai vir die belangrike Wêreldbeker-wedstryd teen Ierland in Saint-Denis.

Williams, wat Skotland voorheen afgerig het, het vroeër mos gebrom dat die Suid-Afrikaners die plaasvervangersbank misbruik toe hulle ʼn soortgelyke gelaaide bank teen die All Blacks op Twickenham gekies het.

Nou sal Deon Fourie, Ox Nche, Trevor Nyakane, Jean Kleyn, RG Snyman, Marco van Staden en Kwagga Smith seker vir verdere hoofbrekens sorg.

Die risiko verbonde aan ʼn 7/1-verdeling is welbekend: As ʼn agterspeler in die beginvyftiental sou seerkry, kan die Bokke bontstaan om hul wedstrydlegkaartstukke te laat pas.

Gelukkig kan Cobus Reinach op vleuel diens doen, terwyl Kwagga Smith se sewesagtergrond ook handig te pas kom.

“Ierland is ʼn topgehalte span met sterk voorspelers en ʼn talentvolle agterlyn. Hulle maak die spel lekker vinnig en ons weet dat ons op ons beste sal moet wees. Ons het in 2022 teen hulle gespeel en ons het vanjaar ook hul vordering dopgehou; die spelers weet dus wat van hulle verwag word,” het Nienaber gesê.

Volgens die Springbok-afrigter is ʼn wedstrydgroep gekies wat die Iere in toom kan hou.

“Ons het diepte en veelsydigheid opgebou en ons glo dat hierdie die beste spelerkombinasie vir die kragmeting is. Dit is baie van die spelers se tweede of derde Wêreldbeker-toernooi en hulle weet wat dit verg om op hierdie vlak suksesvol te wees. Ons glo dat die span oor die regte balans beskik om die wedstryd te wen.”

ʼn Tikkie geskiedenis tel ook in die Springbokke se guns: Hulle het hul laaste sewe toetse in Parys gewen.

Ja-nee, die tafel is omtrent vir die tweestryd gedek.

Die wedstryd begin Saterdag om 21:00 en die aksie sal regstreeks op SuperSport uitgesaai word.

Springbokke: Damian Willemse (heelagter), Kurt-Lee Arendse (regtervleuel), Jesse Kriel (buitesenter), Damian de Allende (binnesenter), Cheslin Kolbe (linkervleuel), Manie Libbok (losskakel), Faf de Klerk (skrumskakel), Jasper Wiese (agtsteman), Pieter-Steph du Toit (flank), Siya Kolisi (kaptein en flank), Franco Mostert (slot), Eben Etzebeth (slot), Frans Malherbe (stut), Bongi Mbonambi (haker) en Steven Kitshoff (stut). Plaasvervangers: Deon Fourie, Ox Nche, Trevor Nyakane, Jean Kleyn, RG Snyman, Marco van Staden, Kwagga Smith en Cobus Reinach.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Andrew ·

Sa hoop mar die bok het skop saterdag, as die Iere se pak die mas opkom gaan pale toe skop die verskil wees.

Harley Davidson ·

Kan die kleur kwotas nou asb geskap word dit hoort nie meer in 2023 nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.