Noord en Suid se bestes slaags in Italië

Foto: GB Jordaan.

Die beste span in die Pro14-reënboogreeks en in die plaaslike Reënboogbeker sal op 19 Junie in ’n geskiedkundige Noord teen Suid-eindstryd in Italië kragte meet.

Die wedstryd sal op die huidige voorlopers in die Europese kompetisie, Benetton, se veld in Treviso aangebied word en volgens berigte kan tot duisend toeskouers die kragmeting bywoon.

Martin Anayi, uitvoerende hoof van Pro14-rugby, is trots oor wat agter die skerms gebeur het om die wedstryd moontlik te maak.

Daar was aanvanklik groot teleurstelling toe die Suid-Afrikaanse spanne weens Covid-19-regulasies nie teen oorsese spanne in die Reënboogbekerreeks kon speel nie.

“In ’n baie kort tyd het ons met ’n ongelooflike oplossing vorendag gekom om hierdie twee toernooie saam te bind. Die beste van die Pro14 sal teen die beste van Suid-Afrika te staan kom,” het Anayi gesê.

En nadat die Lions die afgelope Saterdag die Bulls geklop het, is dit nie ’n uitgemaakte saak wie die resies na Treviso gaan wen nie.

Die Pretorianers is egter steeds eerste op die punteleer met 15 punte, gevolg deur die Stormers en die Sharks elk met 11 punte.

Daar is nog twee rondes van die plaaslike reeks oor met die Bulls wat dan onderskeidelik teen die Stormers en die Sharks sal kragte meet.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.