Pasop vir dié Van der Merwe

Duhan van der Merwe. Foto: Vincenzo Pinto/AFP.

Suid-Afrikaners is baie lief vir Van der Merwe-grappies, maar dit kan nie te snaaks wees wanneer ’n sterk agterspeler van amper 110 kg op jou afstorm nie.

Jamie Roberts, die Walliese senter en een van die Britse en Ierse Leeus se heel bestes, meen dat die Springbokke op hul hoede vir Duhan van der Merwe moet wees.

Die 25-jarige George-boorling is een van die sterre in Europese rugby en hy was die voorste driedrukker in die afgelope Sesnasiesreeks. Daarbenewens het hy ook die rekord van die legendariese Brian O’Driscoll verbeter.

O’Driscoll het in 2000 se reeks altesaam 30 verdedigers op sy eie geklop, terwyl Van der Merwe vanjaar 31 verdedigers na lug laat gryp het.

En Roberts glo dat dit juis die Skotse internasionale speler se stormlopies is wat van hom ’n baie gevaarlike speler maak.

Volgens Roberts kan Conor Murray, Dan Biggar, Robbie Henshaw, Owen Farrell, Anthony Watson en Stuart Hogg deel van die Leeus se agterlyn wees, wat dan beteken dat Van der Merwe op vleuel losgelaat kan word.

“Ek sal mal daaroor wees as hy op vleuel ingespan word, veral omdat hy die bal so goed dra. Ek het net so ’n spesmaas dat hy sy geboorteland se velde aan die brand gaan speel,” het Roberts gesê.

Van der Merwe se verdedigingskwesbaarheid skeel Roberts ook min – hy glo juis dat ’n mens die fisieke Suid-Afrikaanse aanslag met vuur moet beveg.

Op sy beurt kan die Edinburgh-speler nie wag om die Springbokke aan te vat nie.

“Ek dink dit is een van die grootste eerbewyse in wêreldrugby om vir die Britse en Ierse Leeus gekies te word,” het hy in ’n onderhoud met SA Rugby Magazine gesê.

“’n Van der Merwe, ’n Ier en ’n Engelsman druk elk ’n drie teen die Springbokke” kan ’n lekker inleiding tot ’n flou grappie wees indien die Suid-Afrikaners die fout maak om die Leeus se slaankrag te onderskat.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.