Plumtree terug in Haaitenk

John Plumtree is terug by die Sharks. (Foto: Twitter/Sharks)

Die Sharks het vandag bevestig dat John Plumtree weer die hoofafrigterleisels in Durban sal vasvat.

Die 57-jarige Nieu-Seelander sal amptelik op 1 Julie aanmeld en sy aanstelling beteken dat Neil Powell sy direkteur van rugby-rol sal hervat.

Plumtree het die Durbaniete al vantevore (2008 tot 2012) met welslae afgerig. Die Curriebeker het in 2008 en 2010 staanplek op Kingspark gekry, terwyl die Sharks ook in die eindstryd van die 2012-Superrugbyreeks gespeel het.

As speler spog hy ook met twee Curriebeker-titels, terwyl hy die unie in 80 wedstryde verteenwoordig het.

Nadat sy aanvanklike afrigterskof in Durban tot ʼn einde gekom het, het hy onder meer die Hurricanes in Nieu-Seeland afgerig, terwyl hy ook deel van die All Blacks-opset was.

“Durban was nog altyd my tweede tuiste en ek het net goeie herinneringe van my tyd as speler en afrigter. Ek sien daarna uit om terug te keer en saam met ʼn talentvolle groep spelers te werk,” het Plumtree gesê.

Volgens die afrigter is die Sharks ʼn trotse handelsmerk wat goeie vertonings op die speelveld nastreef.

“Ek is ten volle daartoe verbind om alles binne my vermoë te doen sodat ons nie net ons doelwitte bereik nie, maar ook ons ondersteuners trots maak.”

Op sy beurt is Powell opgewonde om Plumtree terug te verwelkom.

“Plum is ʼn ervare en skerp afrigter wat al op die hoogste vlak spanne afgerig het. Ons is verheug om hom weer deel van die opset te maak en ek is daarvan oortuig dat hy ook na die taak uitsien.”

Die Sharks speel Saterdag in die Verenigde Rugbykampioenskap-kwarteindstryd teen Leinster in Dublin.

Die twee spanne was verlede jaar in ʼn drieëfees op die RDS Arena gewikkel en hoewel die tuisspan die kragmeting met 54 – 34 beklink het, het die Durbaniete gewys dat hulle punte teen die Europese topspan kan aanteken.

Dit is egter g’n maklike taak om Leinster in ’n uitklopkragmeting te klop nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

SjN ·

Welkom terug John, was n goeie speler en ook nou afrigter, sterkte met jou taak vorentoe.

Jakes ·

Geluk John met die aanstelling. Ek wil egter beklemtoon dat n span se welslae op die veld slegs bepaal kan word wanneer daar eerder op die spel gekonsentreer moet word as op allerlei sosiale en maatskaplike gebeure buite die rugbyveld. Ek is ook seker dat die borge en ondersteuners van John Plumtree gaan verwag om n Sharks span in die veld te kan stoot wat kan meeding met nie net die 3 ander franchises in SA nie maar wat ook met Europese spanne kan kompeteer.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.