Pro14: Kliniese Leinster klop Munster

Munster se treurmare in uitspeelwedstryde duur voort. (Foto: Munster Rugby/Twitter)

Dit was regte uitspeelrugby: hard, klinies en onaanskoulik … maar doeltreffend.

Dit was nou nie die soort spel wat die Springbokke verlede jaar in die Wêreldbeker-eindstryd teen Engeland uitgestal het nie, maar nou ja, dis soos die Iere daarvan hou.

Leinster se rugbyspan het Munster Vrydagaand met 13-3 in die halfeindstryd van die Pro14-reeks in ʼn toeskouerlose Aviva-stadion in Dublin geklop om sy plek teen óf Ulster óf Edinburgh te bespreek, wat later Saterdag in die ander halfeind speel.

Leinster, wat die enigste drie gedruk het, het sy onoorwonne status vanjaar behou, terwyl Munster se treurmare in uitspeelwedstryde voortduur.

Die afrigter, Johann van Graan, se span het nou al vyf van sy laaste uitspeelwedstryde verloor en was 13 van die afgelope 16 uitspeelkragmetings aan die verloorkant.

Van Graan hoef egter nie in sak en as te wees nie, want dit het ook gebeur toe Rassie Erasmus Munster afgerig het.

Die groot verskil was die skopskoen van Leinster se losskakel, Johnny Sexton, wat met twee strafdoele en die doelskop van Ronan Kelleher se drie geslaag het.

JJ Hanrahan, skerpskutter-losskakel van Munster, het met twee kritieke strafskoppe misluk, wat die skaal so maklik in sy span se guns kon beklink het.

Hoe het Damian de Allende en CJ Stander vir Munster gevaar?

Albei was stormramme en het Leinster se verdediging behoorlik getoets. Ondanks hul vermoë om oor die voordeellyn te kom, is dit baie voorspelbaar – al kos dit twee of drie verdedigers om hulle plat te trek.

Dan het Van Graan se plan om soos die Bokke met ʼn 6/2-plaasvervangersbank (ses voorspelers en twee agterspelers) te speel, geboemerang toe die vleuel Andrew Conway beseer is en Munster heelwat skuiwe moes maak om voort te gaan.

* In die Engelse Premierliga het die Blou Bulle-flank Jannes Kirsten ʼn drie vir die Exeter Chiefs gedruk om hul posisie boaan die puntelys tot 15 punte bo die Bristol Bears te rek toe die Chiefs die Northampton Saints met 22-19 geklop het. Die Bears het Worcester Warriors met 33-16 geklop.

Northampton se kanse om nog vir die halfeindronde te kwalifiseer, is straks daarmee heen, want die span is sesde op die puntelys.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.