Pro14-reeks: Cheetahs galop oor die Kings

(Foto: Toyota Cheetahs/Twitter)

Die Cheetahs het verlede Saterdag in Port Elizabeth ’n tydige wekroep gekry toe hulle naelskraap teen die Southern Kings in die Pro14-week deurgeskraap het.

Hulle het toe die fout begaan deur betrokke te raak by ʼn hele paar geniepsighede wat hul aandag heeltemal afgetrek het.

Saterdag in hul herontmoeting in Bloemfontein het die Cheetahs nie weer in dieselfde strik getrap nie en het hulle die Kings met 42-0 afgeransel. Hulle is nou weer stewig in die wedloop op ʼn plek later in die jaar in die uitspeelrondes.

Die Cheetahs was rooiwarm, hulle het 515 meter afgelê teenoor die Kings se 94; hulle het die bal 281 keer aan- en uitgegee teenoor die Kings se 98 en hulle het sewe drieë teenoor nul gedruk.

Hul verdediging was ook kookwater, want hulle het net 12 duikslae gemis teenoor die Kings se 24.

Die groot planmaker was weer die skrumskakel Ruan Pienaar wat al die toutjies getrek het. Hoe die afrigter Hawies Fourie hom nie vir elke wedstryd in die beginspan kies nie, laat die Vrystaat-ondersteuners diep kopkrap.

Hy bring kalmte, hy beheer die wedstryd soos ʼn ervare verkeerskonstabel op puntdiens en mergel die ander spanne uit met sy taktiese skopwerk en breekslae.

Dan het die haker Joseph Dweba, afgesien van twee drieë, ook weer die vonk aangesteek. Afgesien van Dweba het Chris Massyn, Jasper Wiese, Clayton Blommetjies, Rhyno Smith en Louis Fouche ook gedruk.

Vir die Cheetahs is daar weer baie lig in die tonnel, maar vir die Kings duur die nagmerrie voort.

Ai, wanneer gaan die Suid-Afrikaanse rugbybase iets daaraan doen?

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Stefan ·

Die Kings kon ‘n uitstekende afrigter kry. Maar hy was wit en die Kings wil nie wit hê nie.
So, ek hoop hulle verloor al hul wedstryde, word uitgeskop uit die Pro 14 en kan net die curriebeker se tweede afdeling haal.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.