Pumas blus Wallis se vuur

Argentinië vier ‘n drie teen Wallis. (Foto: Wêreldrugby)

Argentinië se rugbyspan het Saterdag in Marseilles die spreekwoordelike appelkar omgegooi toe hy Wallis in die kwarteindronde van vanjaar se Wêreldbekertoernooi met 29 – 17 uitgeboender het.

Die Pumas, wat rustyd met 6 – 10 agter was, het met dié oorwinning die eerste span geword wat tot die halfeindronde kon deurdring.

Maar daar gaan nog tot laataand gestry word of die skeidsregter Karl Dickson van Engeland, ʼn oud-speler van die Bedford Blues en Harlequins, die regte beslissing geneem het toe hy nie die Pumas se slot, Guido Petti, met ʼn rooi  of geel kaart gestraf het nie.

Dit het gevolg ná ʼn skouer-teen-die-kop-skoonmaak op die Walliese senter Nick Tompkins in die tweede helfte by ʼn losgemaal.

Dickson, wat die Suid-Afrikaner Jaco Peyper vervang het nadat hy sy kuit in die eerste helfte beseer het, het eers lank met die televisieskeidsregter Marius Jonker oor die duikslag/indons beraadslaag voordat hy sy besluit geneem het.

Volgens Dickson was daar versagtende omstandighede omdat Tompkins en Petti albei afgebuk het. Uit ʼn rugbyoogpunt was dit ʼn raakvat-besluit waarop ander skeidsregters hopelik sal voortbou.

Maar volgens die reëls?

Dit was ʼn  geval van ses van die een en ses van die ander. As jy ʼn Walliese ondersteuner is, moes Petti geel of rooi gesien het. As jy Argentynse bloed in jou are het of ʼn span van die Suidelike Halfrond ondersteun, was Dickson in die kol.

Die beslissing het Wallis geknak en die Pumas nuwe vuur gegee. Wallis kon weliswaar kort voor die einde die wedstryd beklink het, maar Louis Rees-Zamitt is net duskant die hoekvlag uitgeduik.

Toe het Wallis alles oorboord gegooi in ʼn poging om te wen, voordat die Pumas se veteraan Nicholás Sánchez ʼn bal onderskep het en 40 meter vir sy drie onder die pale genael het.

Uit ʼn Walliese oogpunt het hulle die wedstryd weggegooi nadat hulle met 10 – 0 voor was. Swak dissipline en oordeelsfoute het gevolg.

Dan was Liam Wiliams en Dan Biggar nie heeltemal wedstrydfiks nie en het dit geboemerang.

Vir die passievolle Pumas was dit ʼn roemryke en geskiedkundige oorwinning nadat hulle tot dusver afgeskryf is.

Nou het hulle momentum, maar kan hulle verder vorder?

Puntemakers: Argentinië 29 (6): Drieë: Joel Sclavi, Nicholás Sánchez. Doelskoppe: Emiliano Bofelli (2). Strafdoele: Bofelli (4), Sánchez.

Wallis 17 (10): Drieë: Dan Biggar, Tomos Williams. Doekskoppe: Biggar. Strafdoel: Biggar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Elma ·

Ses van die een en n halfdosyn van die ander is die regte spreekwoord…..

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.