Pumas stuur duidelike boodskap met oorwinning

Die Pumas het die Blou Bulle met 63 – 15 op Loftus Versfeld verrinneweer. Foto: Twitter.

Die Pumas het gister op Loftus Versfeld maar net weer eens bewys dat die Curriebeker in geen museum hoort nie toe hulle die Blou Bulle met 63–15 oorrompel het.

Die Laevelders het nege drieë teenoor die twee van die tuisspan gedruk en dit was lekker om te sien hoe spelers soos Sebastian de Klerk, Tinus de Beer en Devon Williams met die bal baljaar het.

Dit het weer eens net die feit onderstreep dat Jimmy Stonehouse een van die topafrigters in Suid-Afrika is.

Die wegholoorwinning teen die Bulle is vir hom en sy span waarskynlik nog net die versiersuiker op die koek, nog hoegenaamd nie die kersie nie. Hulle sal waarskynlik nou harder as ooit werk om die silwerware weer aan die einde van die seisoen omhoog te hou.

Pure Puma-passie. Jimmy Stonehouse en sy spelers. Foto: Twitter

Dit sal ʼn duidelike boodskap aan die nasionale rugbybase stuur: Die Pumas is nie net hier om saam met die groot honde te blaf nie; hulle kon sommer ook hul tjank aftrap.

Om dinge in ʼn neutedop op te som: Die verdedigende Curriebeker-kampioenspan het met die Bulle gemors – selfs al kon die Pretorianers op die dienste van onder andere S’bu Nkosi, Cornal Hendricks en Morné Steyn reken.

Soos wat Stonehouse tereg in ʼn destydse onderhoud met Maroela Media gesê het: “Die Pumas sal altyd ʼn krag wees.”

  • Kyk gerus môre uit vir Maroela Media se onderhoud met Marius van Rensburg, die Pumas se uitstekende uitvoerende hoof.
  • Curriebeker-punteleer:
  1. Pumas: 5 punte
  2. Cheetahs: 5 punte
  3. Haaie: 5 punte
  4. Westelike Provinsie: 5 punte
  5. Goue Leeus: 1 punt
  6. Griffons: geen punte
  7. Griekwas: geen punte
  8. Blou Bulle: geen punte

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Jolandé ·

As ek die Pumas is sal nou nie regtig feesvier nie. Ek is glad nie n Blou Bul ondersteunder nie, maar daai span was maar ‘n afgewaterde spannetjie teenoor hulle goeie spelers wat nie gespeel het nie. Maar ek wil net sê bring it on, Pumas ons wag vir julle hier in die Kaap. WP, jou leke ding!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.