Punte vir Pollard in Tigers-terugkeer

Handré Pollard is terug in die kleure van Leicester Tigers. (Foto: X/Leicester Tigers)

Ondanks Handré Pollard se tien punte met die skopskoen het Leicester Tigers steeds met 29 – 25 teen Harlequins in ʼn Gallagher Premierliga-wedstryd verloor.

Die Tigers se Suid-Afrikaanse losskakel was in die kol met twee doelskoppe en twee strafskoppe, terwyl sy uitstekende aangee ook ʼn rol in een van Freddie Steward se drieë gespeel het.

Nog ʼn Wêreldbeker-wenner, agtsteman Jasper Wiese, was in Leicester se opdrafspan terwyl André Esterhuizen onder Harlequins se plaasvervangers getel het.

Tyrone Green, die vlugvoetige agterspeler wat sy stempel by die Lions afgedruk het, het een van Harlequins se drieë gedruk.

Tog moet Pollard se ster baie helder skyn ná die afgelope Wêreldbeker-toernooi in Frankryk.

Die 29-jarige losskakel het nie met ʼn enkele stelskop in die Springbokke se uitspeelwedstryde op die Stade de France skeefgekorrel nie.

Pollard het 33 punte in die rugbyskouspel aangeteken. Dit sluit in sy vyf punte teen Frankryk in die kwarteindstryd, sy agt punte teen Engeland in die halfeindstryd en natuurlik al 12 van die Bokke se punte in eindstryd teen Nieu-Seeland.

Die no.10-speler spog met altesaam 195 punte in sy drie Wêreldbeker-rugbytoernooie, wat beteken hy is tans die speler wat die derde meeste punte nóg in Wêreldbeker-rugby aangeteken het. Dit is meer as die legendariese All Black-losskakel Daniel Carter (191) en net soveel as die voormalige Australiese losskakel Michael Lynagh.

Volgens die Webb Ellis-wenner is vertroue die sleutel tot sy stelskopsukses.

“Ek het vertroue in my spanmaats en hulle het weer vertroue in my. Wanneer jy ʼn stelskop verbrou, is dit nie vir ons die einde van die wêreld nie. Dit is net nie hoe ons dinge benader nie,” het Pollard gesê.

  • Puntemakers:

Harlequins: Drieë: Dino Lamb (2), Alex Dombrandt, Tyrone Green en Will Porter. Doelskoppe: Marcus Smith.

Leicester Tigers: Freddie Steward (2) en Hanro Liebenberg. Doelskoppe: Handré Pollard (2). Strafskoppe: Pollard (2).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

B-Man ·

So, 20 van die 54 punte op die dag is deur RSA’ners aangeteken…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.