Raskaart help knip glo wedstryd kort

Die speel van die raskaart het glo Saterdag onder meer daartoe gelei dat ʼn wedstryd in die Goue Leeus-rugbyunie (GLRU) se Senior Grootuitdaagreeks (SGU) reeds in die eerste helfte kortgeknip is.

Dit was in ʼn botsing tussen Southern Knights van Naturena (tweede op die punteleer) en Kagiso (tweede laaste).

Volgens wat Pale Toe! kan vasstel, is ʼn speler van Kagiso ná herhaalde opsetlike oortredings ʼn geel kaart gewys.

In ʼn daaropvolgende woordewisseling met die skeidsregter wou hy glo weet of hy die geel kaart kry omdat hy swart is.

Hierop wou die blaser die speler se optrede met sy afrigter en spanbestuur uitpluis, maar dié het blykbaar in gebreke gebly om op te tree.

Die speler (van die veld af) se volgehoue uittarting het veroorsaak dat die skeidsregter hom met ʼn tweede geel kaart – dus gelyk aan ʼn rooi kaart – gestraf het.

Voor die spel weer aan die gang kon kom, het die speler glo die blaser gevloek, waarop laasgenoemde die wedstryd afgelas het.

Die voorval volg minder as twee weke nadat ʼn GLRU-omsendbrief aan die bond se klubs die gedragskode teenoor wedstrydbeamptes beklemtoon het, en ʼn oproep op klubbesture gedoen is om dissipline te handhaaf, en sodoende die beamptes se goedgesindheid te verseker.

♦ Intussen het skeidsregters in die Oostelike Provinsie weer die fluitjie opgeneem, nadat hulle twee weke lank gestaak het uit protes teen die beledigings en aanrandings wat aanvoer hulle moet verduur.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Jack Russl ·

Hierdie het niks met rugby te doen nie. Hierdie is ‘n persoon wat sy eie foute probeer wegsteek agter die rasse-kaart. So ‘n persoon moet ‘n lang skorsing kry

Kaspaas ·

Het vir lank in die Gauteng liga gespeel en sonder om klubs se name te noem wat ek hier lees verbaas my glad nie en stem saam met skeidsregter se optrede. Ook seker dis nie uniek tot Gauteng nie.

ASH ·

My seun is skeidsregter in Mpumalanga. Hy moes voor n hele paneel verskyn en is pertinent deur n blanke prokureur beskuldig dat hy vir die swart speler n rooi kaart gegee het op grond van sy velkleur. Die swart speler het n geel kaart gekry vir vuil spel. Daarna het hy herhaaldelik en met opset by loskrums in die skeidsregter vasgehardloop. . My seun het die speler gewaarsku en na die derde keer n rooikaart gegee. Die speler wat kop en skouers groter as hy was moes deur sy spanmaats vasgehou word omdat hy die skeidsregter wou te lyf gaan. My seun het die wedstryd na 15min in die tweede helfte gestop omdat sy veiligheid in gedrang was. Dit is alles op video maar die rassekaart het meer gewig gedra en Die speler is net vir een week geskors… As daar nie iets drasties gedoen gaan word deur SARU om die bullebakke uit rugby te hou nie gaan klubrugby sink..

Douglas M Cohen ·

maak nie saak hoeverkeerd hulle is nie het die troefkaart in hulle hande, in hulle oe is jy wat wit is altyd n rassis

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.