Ras(s)ie-leier: Sir Clive nou ook ʼn Erasmus-aanhanger

Deon Davids en Rassie Erasmus spog met die Webb Ellis-trofee nadat die Springbokke vir Nieu-Seeland met 12 – 11 in Parys geklop het. (Foto: Twitter/Springbokke)

Sir Clive Woodward is ʼn interessante kêrel. Waar hy aanvanklik onder Rassie Erasmus se grootste kritici getel het, klink dit nou of hy die Suid-Afrikaanse rugby-genie vir Engeland wil werf.

Volgens die 67-jarige Woodward kan Erasmus die perfekte doepa vir Engelse rugby wees; iemand wat nie bang is om groot besluite te neem nie en ʼn rugbyman wat met innoverende denke sy teenstanders aan’t raai hou. Dis nou volgens een van sy jongste Daily Mail-rugbyrubrieke.

Die oudafrigter, wat in 2003 die Wêreldbeker saam met hardebaarde soos Martin Johnson en Lawrence Dallaglio gewen het, meen dat Engeland se rugbybase ʼn slag met Erasmus sou slaan as hulle hom as ʼn moontlike direkteur van rugby kan nadertrek.

“Erasmus sal ʼn kontroversiële keuse wees, maar ook my gunsteling. Ja, hy het al ʼn paar dinge gedoen waaroor hy waarskynlik spyt is, maar die Wêreldbeker-toernooi het my met ander oë na hom laat kyk,” het Woodward geskryf.

In ʼn neutedop is die Engelsman beïndruk met die Suid-Afrikaner se vermoë om die beste uit sy spelers te kry. Sowaar, van ʼn Springbok-span wat ʼn paar jaar gelede gesukkel het om wedstryde te wen tot ʼn dubbele Wêreldkampioen.

“Hoe het hy dit reggekry? Deur getrou te wees aan homself en sy onortodokse benadering tot die spel. Suid-Afrika is nou ʼn beter span as in 2019. En dit wil gedoen wees.”

Sir Clive Woodward. (Foto: Glyn Kirk/AFP)

Volgens Woodward het die Bokke hom gereeld beïndruk – soos toe Damian Willemse eerder vir ʼn skrum as ʼn skop teen Frankryk gevra het.

“Dit was pleinweg briljant en dit is iets waaraan ek nog nooit gedink het nie; om nie eens van Cheslin Kolbe se afstormlopie in die einste wedstryd te praat nie. Daardie twee verbroude skoppunte het waarskynlik die kwarteindstryd vir Suid-Afrika beklink.”

Dan was daar die dapper besluit om Handré Pollard ná net 31 spelminute in die halfeindstryd teen Engeland op te stuur, terwyl die 7/1-plaasvervangerverdeling in die eindstryd ook die wenkbroue laat lig het.

“Erasmus is werklik soos ʼn vars briesie wat oor die rugbyveld waai. Dit is seker nie onmoontlik dat hy eendag deel van die Engeland-opset kan word nie en dit sal beslis die rugbyliefhebbers in die kroeë laat gons!”

Hy het bygevoeg dat die Bokke welverdiend die Wêreldkampioen-span is.

“Vir ʼn span om al drie uitklopwedstryde met net een punt te wen is ʼn ongelooflike prestasie en dit wys jou net waartoe hulle in staat is. Hulle weier net om te verloor.”

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Suzette ·

Die Sir moet vir Rassie uitlos. Dit sal ‘n groot verlies wees vir SA rugby as ons hom verloor – ek hoop hulle besef dit.
Dit is so dat almal nie van hom hou nie, maar dat hy ‘n kop vir rugby het is verseker so, en hy is nie bang om sy sê te sê nie. Hy is ‘n groot faktor waarmee spanne wat teen SA speel rekening moet hou.

kragaap ·

Hoekom gaan help die sir nie self by die onbeholpe engelse rugby nie hy weet mos alles ?

Miena ·

Dear Sir
Los asb vir Rassie aan ons kant uit. Kry jou eie sport genie aan jou kant van die wereld om die Ingilse te lei.
We thanks you very much neh.
Afrikaanssprekende Nr. 46 want Mbonambi is Nr. 45.
Trotse BOK- Ondersteuners van SA!!!

duiweboer ·

As die geld reg is Rassie, laat waai Engeland toe. Jy sal net ryker word.

Marieta ·

Jong, jy raak nou aan onse Rassie hier, dear Sir! Bly op jou kant!

Op ‘n ernstige noot; Rassie verdien net die beste en hy sal ‘n aanwins wees vir enige span. Hy het gewys hoe om verskillende mense in een span saam te gooi en hulle te ontwikkel om die topspan in die wêreld te wees. Hy was bereid om vreesloos die harde en moeilike besluite te neem en deur te druk om ‘n punt te bewys. Daardie punt wat vir ons die wêrelbeker verseker het! Sy hart sit op die regte plek!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.