Read sluit hom aan by die 100-wenklub

Kieran Read twee jaar gelede teen Ierland en teen wie die All Blacks Saterdag weer speel. (Foto: Facebook Kieran Read)

Daar is net vier spelers wat dit al reggekry het om in ʼn honderd toetse aan die wenkant te wees met nog twee wat aanstaande jaar ook die mylpaal behoort te haal.

En hulle is (amper vanselfsprekend) almal All Blacks.

Die All Blacks-kaptein Kieran Read het Saterdag met sy span se deurskraap-oorwinning teen Engeland die vierde geword wat die 100-wenkerf bereik het. Hy volg in die voetspore van All Blacks Richie McCaw, Keven Mealamu en Tony Woodcock.

Read het die mylpaal in 116 toetse bereik waarvan hy in 109 in die beginspan was. In dié 116 toetse was die aanvoerder van die All Blacks net 13 keer aan die verloorkant. Met drie gelykopuitslae beteken dit dat Read ʼn wenpersentasie van 87,5% in sy toetse het.

Die viertal wat reeds hierdie mylpaal bereik het, behoort aanstaande jaar ses te word. Sam Whitelock, wat die All Blacks-toetskaptein is wanneer Read nie beskikbaar is nie, en die All Blacks-stut Owen Franks, is albei binne trefafstand. Whitelock staan nou op 95 oorwinnings en Franks op 91.

Die enigste speler van ʼn ander land wat naby aan dié prestasie gekom het, is die voormalige kaptein en skrumskakel van die Wallabies, George Gregan. Hy was 93 keer in sy 139 toetse aan die wenkant.

Die man wat met die vinnigste 100 oorwinnings kan spog, is Richie McCaw (112 wedstryde), gevolg deur Read en Woodcock (albei 116 wedstryde) met Mealamu wat een toets meer vir sy honderdste oorwinning benodig het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Swartwolf ·

Kwaliteit speler, mens en leier. Wedstryd in en uit deliver hy en sy span. Goeie opvolger for McCaw. Kyk na die great spanne en kapteins – Carling, Fitzpatrick, Pienaar, Johnstone, Eales, Warburton, ens. Die Springbok kaptein het nog nie een seisoen as kaptein voltooi nie en hy is klaar lewensmoeg.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.