Retallick in All Black-span vir Wêreldbeker

Nieu-Seeland se Brodie Retallick is in die Wêreldbekerspan ingesluit ondanks ‘n besering wat hom weke lank op die kantlyn gaan hou. (Foto: Michael Bradley/AFP)

Veteraanslot Brodie Retallick is Maandag ingesluit in Nieu-Seeland se span vir die Wêreldbeker-rugbytoernooi, ondanks ʼn besering die naweek wat kommer oor sy deelname gewek het.

Retallick, wat al 103 keer wedstryde vir die All Blacks gespeel het, moes die veld weens ʼn kniebesering in die eerste helfte van Saterdag se wedstryd teen Australië verlaat. Die All Blacks het dié wedstryd 23-20 gewen. Hy is nietemin ingesluit in die span van 33 vir die Wêreldbeker wat volgende maand in Frankryk begin.

Nieu-Seeland kom op 23 Augustus in Londen in ʼn opwarmingswedstryd teen die Springbokke te staan, met hul Wêreldbeker-openingswedstryd teen gasheer Frankryk op 8 September in Parys.

Nieu-Seeland kom in Groep A teen Italië, Namibië en Uruguay te staan.

Nieu-Seeland se hoofafrigter, Ian Foster, sê dit sal “sowat ses weke” duur voor Retallick weer kan speel – wat beteken hy sal nie vir die openingswedstryd kan uitdraf nie.

Retallick, wat vir sy derde Wêreldbekertoernooi aanmeld, hoop wel om fiks te wees vir Nieu-Seeland se tweede groepwedstryd teen Namibië in Toulouse op 15 September.

“Die tydsberekening is nie ideaal nie,” sê hy.

“Dit is nog ʼn bietjie seer, maar ek werk met die tydlyn wat die dokters gegee het en hopelik gaan ek beskikbaar wees vir die tweede wedstryd.

“Ek gaan dalk twee wedstryde misloop, drie op die meeste, so ek moet net by die plan hou.”

Foster sê die veteraan verdien ʼn plek in die span ondanks sy besering. “Ons glo werklik hy het sy insluiting verdien en ons kan dit bestuur.”

Die afrigter sê beseerde voorspelers Joe Moody en Ethan Blackadder was ongelukkig om nie gekies te word nie.

“Omtrent die helfte gaan na hul eerste Wêreldbeker; daar is ʼn lekker mengsel van entoesiasme, jeug en ervaring,” sê Foster.

Nieu-Seeland was onoorwonne in hul laaste 11 wedstryde, maar Foster wou hom nie te veel uitlaat oor hoe vol vertroue hy is dat die All Blacks met ʼn vierde Wêreldbeker gaan huiswaarts keer nie.

“In hierdie spel kan jy nooit 100% seker wees nie, ons almal weet hoe ʼn Wêreldbeker werk,” sê hy.

Só lyk die All Black-span vir die Wêreldbekertoernooi:

Voorry:

Stutte: Ethan de Groot (Otago Highlanders), Fletcher Newell (Canterbury Crusaders), Nepo Laulala (Auckland Blues), Ofa Tu’ungafasi (Waikato Chiefs), Tamaiti Williams (Canterbury Crusaders), Tyrel Lomax (Wellington Hurricanes)

Hakers: Samisoni Taukei’aho (Waikato Chiefs), Dane Coles (Wellington Hurricanes), Codie Taylor (Canterbury Crusaders)

Slotte: Scott Barrett (Canterbury Crusaders), Brodie Retallick (Waikato Chiefs), Samuel Whitelock (Canterbury Crusaders), Tupou Vaa’i (Waikato Chiefs)

Losvoorspelers: Sam Cane (Waikato Chiefs, kaptein), Ardie Savea (Wellington Hurricanes), Shannon Frizell (Otago Highlanders), Luke Jacobson (Waikato Chiefs), Dalton Papali’i (Auckland Blues)

Agterspelers:

Skrumskakels: Aaron Smith (Otago Highlanders), Finlay Christie (Auckland Blues), Cam Roigard (Wellington Hurricanes)

Losskakels: Richie Mo’unga (Canterbury Crusaders), Damian McKenzie (Waikato Chiefs)

Senters: Rieko Ioane (Auckland Blues), Jordie Barrett (Wellington Hurricanes), Anton Lienert-Brown (Waikato Chiefs), David Havili (Canterbury Crusaders)

Vleuels: Mark Telea (Auckland Blues), Leicester Fainga’anuku (Canterbury Crusaders), Caleb Clarke (Auckland Blues), Emoni Narawa (Waikato Chiefs)

Heelagters: Beauden Barrett (Auckland Blues), Will Jordan (Canterbury Crusaders)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Niklaas ·

Die All Blacks is besonder gelukkig om so ‘n maklike loting te hê teen 3 de klas spanne. Ek sien groot tellings wat gelees sal word teen die NZ teenstanders

piet ·

Hulle het Frankryk in hulle groep en speel teen of ons (as ons dit maak) of Ierland in die kwarteindstryd. Nie juis dat dit saakmaak nie want hulle sal ons maklik en vir ierland ook klop.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.