RG kan weer op Loftus uitdraf

Munster se RG Snyman. (Foto: Twitter/Munster)

RG Snyman het amper 50 Superrugbywedstryde vir die Bulls gespeel voordat hy sy tasse vir Ierland gepak het om vir Munster te gaan speel.

Nou is die Wêreldbeker-wenslot in Munster se toergroep vir ʼn belangrike Verenigde Rugbykampioenskap-wedstryd teen die einste Bulls op Loftus Versfeld ingesluit.

Benewens die groot Jakarandastad-tweestryd sal die Ierse besoekers ook met die Lions in Johannesburg kragte meet.

Snyman gaan die afgelope paar jaar gebuk onder beserings en hy kon in vier jaar nog net 432 minute vir sy Ierse klub speel.

Die 29-jarige speler het onder meer ʼn skouerbesering in die Springbokke se suksesvolle Wêreldbeker-veldtog in Frankryk opgedoen, terwyl ʼn onlangse virus hom ook vir ʼn wedstryd of twee langs die kantlyn gehou het.

Munster het vroeër bevestig dat Snyman binnekort in die kleure van Leinster te siene sal wees.

Die Suid-Afrikaner sal dus oorgehaal wees om sy tyd saam met die klub op ʼn hoë noot af te sluit en hy kan ongetwyfeld ’n verskil saam met sterre soos Peter O’Mahony en Tadhg Beirne op Loftus Versfeld en Ellispark maak.

  • Snyman se internasionale loopbaanstatistieke:

Toetse: 34

Buiging: Springbokke teen Engeland op Ellispark in 2018

Laaste toets: Springbokke teen Nieu-Seeland op die Stade de France in 2023

Drieë: Twee

  • Munster se toergroep na Suid-Afrika:

Voorspelers: Scott Buckley, Eoghan Clarke, Niall Scannell, Stephen Archer, Mark Donnelly, Oli Jager, Jeremy Loughman, Josh Wycherley, Tom Ahern, Tadhg Beirne, RG Snyman, Fineen Wycherley, Gavin Coombes, John Hodnett, Alex Kendellen, Jack O’Donoghue en Peter O’Mahony.

Agterspelers: Craig Casey, Ethan Coughlan, Conor Murray, Joey Carbery, Jack Crowley, Antoine Frisch, Alex Nankivell, Rory Scannell, Shany Daly, Mike Haley, Calvin Nash, Sean O’Brien en Simon Zebo.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.