Rose-sege laat Iere nie regop sit

Engeland het vir Wallis met 16 – 14 op Twickenham geklop. (Foto: X/Sesnasies)

Engeland het dalk vir Wallis met 16 – 14 op Twickenham geklop om ʼn tydelike eerste plek op die Sesnasies-punteleer in te neem, maar Stephen Ferris meen dat dié sege nie vir slapelose nagte in Dublin of Belfast sal sorg nie.

Dit was inderdaad ʼn slordige wedstryd met die skopvoet van die Rose se George Ford wat uiteindelik die verskil tussen die twee spanne was.

“Dit was hoegenaamd nie ʼn wedstryd van hoogstaande gehalte nie – veral nie as ʼn mens na die spanne se vaardighede en aanvallende vernuf op die veld kyk nie,” het die voormalige Ierse flank in RTE Rugby se ontleding van die kragmeting gesê.

Volgens Ferris het een of twee spelers uitgestaan, maar daar is hopeloos te min kere met die bal gehardloop.

Engeland is weliswaar onoorwonne ná sy eerste twee wedstryde in die toernooi, maar Ferris glo dat daar nog baie ruimte vir verbetering is.

“Hopelik word hulle beter namate die reeks vorder. Tans lyk die Rose na ʼn span wat so ʼn bietjie met sy selfvertroue sukkel; dalk weet die spelers nog nie heeltemal wat die afrigterskorps van hulle verwag nie.”

Ierland speel vanmiddag om 17:00 teen Italië op die Aviva-stadion in Dublin.

Punteleer:

  1. Engeland: agt punte ná twee wedstryde
  2. Ierland: 5 punte ná een wedstryd
  3. Skotland: 5 punte ná twee wedstryde
  4. Frankryk: 4 punte ná twee wedstryde
  5. Wallis: 3 punte ná twee wedstryde
  6. Italië: 1 punt ná een wedstryd

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.