Rugbykampioenskap: Poemas trap Wallabies

Juan Cruz Mallia van die Poemas (middel), Marika Koroibete van die Wallabies (links) en sy Wallabies-spanmaat James O’Connor (regs) (13 Augustus 2022) (Foto: Juan Mabromata/AFP)

Dis nie iets was die meeste rugbyondersteuners voorsien het nie – dat die Argentynse Poemas vanjaar die voorloper op die Rugbykampioenskapsuntelys ná die eerste twee groepwedstryde sou wees.

Maar die Poemas het Saterdagaand in San Juan dit stylvol gevier toe hulle Australië met 48-17 geklop het nadat hulle rustyd met 26-10 voor was. Hulle het boonop sewe drieë vir ʼn bonuspuntsege gedruk en loop nou saam met die Wallabies voor (albei het 5 punte) gevolg deur Suid-Afrika en Nieu-Seeland (albei het 4 punte).

Inteendeel, die Poemas was ná net 60 sekondes reeds met 7-0 voor ná ʼn drie deur Juan Imhoff en hulle het dit met hul tweede drie deur Thomas Gallo binne ses minute opgevolg om met 14-0 voor te loop.

Daar was drie kersies op die koek vir die Poemas. Hulle is voor op die puntelys, hulle het wraak geneem vir verlede week se nederlaag van 26-41 in Mendoza en dit was hul grootste sege oor die Wallabies sedert hulle in 1979 die eerste keer teen mekaar gespeel het.

Daar was versagtende omstandighede vir die Wallabies, want hul inspirerende kaptein, Michael Hooper, is weens persoonlik omstandighede terug in Australië en verskeie van hul topspelers is beseer.

Maar hulle behoort mos genoeg diepte te hê, want immers speel vier van hul franchises saam met Nieu-Seeland in die Superrugbyreeks. Hulle het dus sowat 120 spelers om vanuit te kies, terwyl die Argentyne nie meer Superrugby speel nie.

Die Poemas het soos ʼn sneltrein begin en dit het die Wallabies op die agtervoet geplaas. Hulle het opvangrugby probeer speel, maar voor sowat 40 000 passievolle ondersteuners nie by die draaiboek gehou nie.

Die Poemas het ook met taktiese skoppe die Wallabies gereeld laat omdraai en boonop het hulle ook nie geskroom om die bal wyd te rek nie.

Die Springbokke, wat Sondag of Maandag hul toerspan na Australië vir die volgende twee toetse in Adelaide en Sydney aanwys, het ʼn baie harde neut om te kraak.

Die Wallabies is gekwes, maar hulle het reeds 27 van die 41 toetse tuis teen die Bokke gewen.

In 2021 het die Springbokke twee keer in Australië verloor en so ook in 2011 en 2015.

Die Springbokke speel ook op 17 September teen die Poemas in Buenos Aires in Argentinië en op 24 September tuis in Durban.

Maklik gaan dis beslis nie wees nie.

Punte: Argentinië 48 (26): Drieë: Juan Imhoff, Thomas Gallo (2), Jerómino de la Fuente, Juan Martín González Samso, Emiliano Boffelli, Tomas Albornoz; Doelskoppe:   Boffelli (5); Strafdoel: Boffelli.

Australië: 17 (10): Drieë: James Slipper, Len Ikitau. Doelskoppe: James O’Connor (2); Strafdoel: O’Connor.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.