Rugbyspanne in SA gestrand ná positiewe gevalle

Munster kon nie vandag na Dublin terugkeer nie. Foto: Twitter.

Twee oorsese rugbyspanne, Munster en Cardiff Blues, is steeds in Suid-Afrika nadat spanlede positief vir Covid-19 getoets het.

Die nuwe Covid-variant Omikron het verlede week die Verenigde Rugbykampioenskap-reeks in chaos gedompel soos besoekende klubs geskarrel het om die eerste beskikbare vlug terug na Brittanje te neem.

Munster se planne om per huurvlug na Dublin te reis is egter deur ’n positiewe geval in die wiele gery.

Een van hul spanlede het positief vir die virus tydens ’n polimerasekettingreaksie (PCR)-toets in hul Kaapstadse hotel getoets.

“Deur alle voorsorgmaatreëls te tref en terselfdertyd die gesondheid en welstand van almal voorop te stel, sal Munster Rugby nie vandag huiswaarts kan keer nie,” het die klub in ’n verklaring gesê.

Die spelers en spanbestuur het na hul hotel teruggekeer waar hulle sal isoleer terwyl hulle op verdere instruksies van gesondheidsowerhede wag.

Cardiff Blues is in ’n soortgelyke bootjie nadat twee van hul klublede positief getoets het. Een van die gevalle is vermoedelik die nuwe Omikron-variant.

“Omdat een van die uitslae vermoedelik Omikron is, het die hele groep na hul hotel teruggekeer om te isoleer. Cardiff Rugby sal voortgaan om saam met die Suid-Afrikaanse en Walliese rugbyunies, sowel as plaaslike en internasionale gesondheidsowerhede te werk om die pad vorentoe te bepaal.

“Alle betrokkenes wil hul familie, vriende en die rugbygemeenskap vir hul ondersteuning in hierdie moeilike situasie bedank,” het die Cardiff-span in ’n verklaring gesê.

Die jongste verwikkeling het ongetwyfeld die VRK-bestuur in krisis gedompel om geskikte datums vir die uitgestelde wedstryde te probeer inpas.

Plaaslike derbies is waarskynlik weer die voorland in Suid-Afrika, maar dit sal beteken dat die Bulls, Sharks, Stormers en Lions hul wedstrydfiksheid sal behou en nie te ver agter op die punteleer raak nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.