Rugbyspelers se vreemde bygelowe

Rassie Erasmus in sy geliefde wit hemp. (AP Photo/Eugene Hoshiko)

Bygelowe in rugby is so oud soos die spel self.

Elke speler volg maar sy eie ritueel voor ʼn wedstryd, soos om eers regs te tok en dan jou linkerskoen aan te trek, of andersom.

Sommige spelers glo vas daaraan dat daar ʼn linker- en regtervoet-sokkie is.

Ander spelers het daarvan gehou om ʼn groot stuk biefstuk voor ʼn wedstryd te verorber om jou krag te gee, terwyl ander spelers weer geglo het om hul vingers in die keel te druk.

Om te bad, te stort of te skeer voor ʼn wedstryd is jarelank al taboe.

Daar word vertel dat Victor Matfield die Vrydagaand voor ʼn wedstryd altyd ʼn pak lekkergoed verorber het.

John Smit het swart onderklere gedra, Rassie Erasmus glo daaraan om ʼn “gelukkige” wit hemp tydens wedstryde te dra en Faf de Klerk se Speedo in die kleure van die Suid-Afrikaanse vlag het opslae in verlede jaar se Wêreldbekertoernooi in Japan gemaak.

Joel Stranksy het jare lank sy toksak op dieselfde wyse gepak, met sy trui bo-op.

Nou word jou truie deur die span se bemarkingspersoon in die kleedkamer uitgestal.

Joel Stransky het die wen-skepskop in die 1995 Wêreldbeker deur die pale gejaag. Foto: Facebook.

Van Stransky gepraat, dok Danie Craven-hulle het destyds geglo dat daar altyd ʼn speler van Joodse afkoms in die Springbokspan moet wees om geluk te bring.

Soms het dit gehelp, soos Louis Babrow, Okey Geffin, Wilf Rosenberg, Syd Nomis en Joel Stransky, maar daar was ook ʼn hele paar toetse waarin hulle gespeel het toe die Bokke verloor het.

Op internasionale vlak het Jonny Wilkinson altyd dieselfde T-hemp onder sy trui gedra.

Die oud-Wallaby-senter Tim Horan het geweier om die no. 13-trui by Saracens te dra vanweë die rits beserings wat hy opgedoen het.  Gee my die no. 12-trui of no. 26-trui, het hy gesê.

Mike Catt het altyd aan een van sy oorlobbe gevat en gevryf wanneer Engeland se volkslied gespeel word en Mike Tindall het gesorg dat hy die laaste speler uit die kleedkamer was.

Die spook van Loftus was jarelank ʼn bondgenoot op dié stadion.

Noord-Transvaal het altyd verkies om in die tweede helfte afdraande te speel, van noord na suid.

Dalk was dit bloot omdat Naas Botha so goed pale toe gemik het of die hoogte bo seevlak die besoekende spanne se longe laat brand het, want wanneer Noord-Transvaal die dag verloor het, is daar nie ʼn woord oor die spook gerep nie.

Ook nie tussen 1982 en 1985 nie, toe die Westelike Provinsie die Curriebeker vyf jaar in ʼn ry gewen het.

Ai, moenie dat feite ʼn lekker storie opfoeter nie!

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Hennie ·

Verkoop die SAL aan die vakbonde. Hulle dink mos dis ‘n wonderlike , winsgewende entiteit, dan kan hulle hire en fire soos hulle goed dink!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.