Russe verdedig soos tiere teen Iere

Ierland se Andrew Conway vier sy drie. (AP Photo/Christophe Ena)

Ierland se afrigter, Joe Schmidt, het vroeër die week gekla oor die verdagte strafskoppe wat sy span in hul skoknederlaag teen Japan afgestaan het.

Ná 60 minute in vandag se Rusland-kragmeting het sy frons waarskynlik net nóg dieper geword terwyl hy ongeduldig in sy mikrofoon bevele uitgedeel het.

Want Ierland – die wêreld se vierde beste rugbyspan – het maar lekker teen die Russe gesukkel. Die klomp Ierse ondersteuners het ook hul misnoeë met die span vanuit hul pawiljoensitplekke gewys en die een na die ander Meksikaanse golf is uit pure frustrasie van stapel gestuur.

Johnny Sexton se span het só blink begin – hulle het byvoorbeeld hul eerste drie ná net 90 sekondes gedruk toe Rob Kearney ná ’n goeie ingeoefende beweging gaan druk het.

Kort daarna was dit Peter O’Mahony se beurt toe hy Sexton se briljante steekskoppie met ’n groot glimlag op sy gesig opgevolg het. Maar dikwels volg die maer jare in rugby direk op ’n sterk begin en die Iere kon hul bonuspuntdrie eers diep in die tweede helfte druk.

Die Russiese Bere het soos tiere verdedig en vroeg in die kragmeting het hulle al 68 duikslae uitgevoer, terwyl hulle net drie keer misgetas het.

Ierland het vir Rusland met 35 – 0 gewen. (AP Photo/Christophe Ena)

Hulle dapper verdediging het gesorg dat die Iere – wat met een van die gevaarlikste agterlyne in wêreldrugby spog – geen slaan-, plof- óf trefkrag gehad het nie. Trouens, hulle het maar futloos gelyk en hulle kon eers in die 75ste minuut van die wedstryd werklik met hul gewone Ierse vryheid speel, toe Garry Ringrose se vyf punte die blinkste diamant ná ’n juweel-agterlynbeweging was.

Ja, die Iere het gemaklik met 35 – 0 gewen, maar Schmidt en Sexton gaan waarskynlik nie té breed glimlag nie.

“Ons is baie tevrede om weer op die wenpad te wees ná ons Japannese nederlaag, maar die Russe het dinge baie moeilik vir ons gemaak. Boonop was die bal weer eens baie glibberig en ons het ’n klomp dinge om aan te werk vóór ons volgende wedstryd teen Samoa,” het Sexton ná afloop van die wedstryd gesê.

Jip, daar gaan waarskynlik nie vanaand baie spesiale aanbiedinge by Ierse kroeë wees nie.

  • Puntemakers:

Ierland: Drieë: Rob Kearney, Peter O’Mahony, Rhys Ruddock, Andrew Conway, Garry Ringrose. Doelskoppe: Johnny Sexton (3), Jack Carty (2).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.