SA se rugbyspeler van die jaar: Malmesbury se missiel?

pieter steph du toit siya kolisi duane vermeulen

Pieter-Steph du Toit, Siya Kolisi en Duane Vermeulen. (Foto: @Springboks/X/Twitter)

Watter Springbok-rugbyspeler het tydens die onlangse Wêreldbekertoernooi in Frankryk die grootste indruk gemaak?

Was dit Eben Etzebeth, Siya Kolisi, Frans Malherbe, Damian Willemse of Pieter-Steph du Toit.

Dié vyftal is almal benoem vir Suid-Afrika se Rugbyspeler van die jaar-toekenning. Die keuse behoort ʼn maklike een te wees wanneer die wenner aanstaande jaar aangekondig word.

Etzebeth, verlede jaar se wenner, sal ook ʼn gewilde keuse wees, want hy was een van die ysters in die Springbok-agttal wat die grondslag vir die Bokke se naelbytoorwinnings oor Frankryk, Engeland en die All Blacks gelê het.

Kolisi het as kaptein baie waarde toegevoeg en was baie gewild. Hy sal ʼn sentimentele keuse wees, maar het hy soveel impak as speler gehad?

Malherbe was een van die ankers in die Springbokskrum. Geen fieterjasies nie, hy het sy basiese pligte om te skrum en te ondersteun baie goed gedoen en ook heelwat duikslae uitgevoer. Maar was dit genoeg om die skaal te laat swaai?

Die kans is skraal dat Willemse, die enigste agterspeler, met die eerbewys beloon sal word, want hy was immers nie altyd in die beginspan nie.

Dit laat Du Toit wat bekendstaan as Malmesbury se missiel, oor. Hy is ook in 2016, 2018 en 2019 as SA se Speler van die jaar aangewys, en is in 2019 deur Wêreldrugby as Speler van die jaar vereer.

pieter steph du toit

Pieter-Steph Du Toit is Saterdag as die beste speler van die wedstryd aangewys. (Foto: @Springboks/X/Twitter)

Du Toit het vanjaar 28 duikslae teen die All Blacks in die eindstryd uitgevoer, wat ʼn baie groot rol in die Bokke se herowering van die Webb Ellis-trofee gespeel het.

Du Toit het die All Blacks se spelbreker agterlangs, Jordie Barrett, nege keer raakgeduik.

Dit was Du Toit se taak om die buiteskouer van die baldraer (Barrett) aan te val wat hy uiters suksesvol uitgevoer het. Barrett het baie selde oor die voordeellyn gekom, want hy is elke keer deur Du Toit agter die voordeellyn gestuit. In die ribbes en om sy bene.

Ná die eindstryd, wat die Bokke met 12 – 11 gewen het, is Du Toit as Speler van die eindstryd aangewys, wat hy terdeë verdien het.

Tydens die toernooi het die Bokke 972 duikslae uitgevoer, waarvan Du Toit 68 met welslae uitgevoer het.

Hy het in die vyf belangrikste wedstryde gespeel, teen Skotland, Ierland, Frankryk, Engeland en die All Blacks.

Hy het in die openingswedstryd teen Skotland sewe suksesvolle duikslae uitgevoer en in die eindstryd teen die All Blacks ʼn ongelooflike 28 duikslae.

Hy het ook 18 keer die bal gedra, 94 meter veld gewen, ʼn hele paar lynstane gewen en ook ʼn drie gedruk.

Kan enigiemand nog daarteen stry?

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

John ·

Wel gedaan die Leeus , Blitsbokke en ook Pieter Steph……die dames krieket span sal nog regkom.

electricmango ·

Hy is nie verteenwoordigend van die land en die bevolking nie. Het nie eens geweet kolonialiste mag deelneem aan die nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.