Saru-besnoeiing: Luiperds tree drasties op

Die SA Rugbyunie (Saru) se inkorting van sy geldbydrae aan die kleiner bonde het die Luiperds tot drastiese optrede genoodsaak, wat wis en seker wyer in Suid-Afrikaanse rugby sal uitkring.

Die bond se uitvoerende hoof, Andries de Kock, het op navraag deur Pale Toe! ʼn verklaring uitgereik waarin hy meld dat die Luiperds as voorkomende stappe, onder meer, nie al hul wegbepalings sal nakom nie, en geen ander keuse het nie as om drie van sy topspelers vry te stel.

De Kock sê die senior span sal nie sy wegwedstryde in die Curriebeker- Eerste Liga teen Namibië en die Oostelike Provinsie kan nakom nie. Dieselfde geld vir die o.19- en o.21-wedstryde teen die OP en die Westelike Provinsie.

“Hoewel die Luiperds deurentyd alles moontlik doen om spesifiek te kyk of hierdie bepalings nie nagekom kan word nie, is die huidige posisie egter dat dit nie sal kan gebeur nie,” het hy gesê.

Walt Steenkamp, Boela Venter en Henko Marais, drie van die bond se mees senior spelers, is vrygestel nadat hulle aanbiedinge van ander bonde ontvang het.

Verdere besnoeiings raak die reisreëlings van die Luiperds-spanne.

“Al ons spanne reis per bus en keer direk ná afloop van die wedstryd terug na Potchefstroom. Spanne deel sover moontlik die bus.

“Die absolute minimum word bestee aan reiskoste vir beamptes en ander wat die spanne vergesel,” sê De Kock.

Hy sê aanvullend hiertoe is daar deurlopende besnoeiing op alle uitgawes, onder meer van die personeel se salarisse wat verminder is, en skeidingspakkette wat aangebied is. Drie daarvan is reeds aanvaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Frans C ·

Die agteruitgang van Suid Afrikaanse rugby word dikwels toegeskryf aan alleenlik die sg kwotastelsel,maar die eintlike vark in die verhaal is SARU wat niks meer as ‘n verlengstuk
en spreekbuis vir die regering is nie.
Om dit te voorkom lyk my is die privatesering van rugbybonde soos tans oorsee die norm is.Hoelank dit egter die regering gaan neem om ook sy neus daarin te steek is ‘n ander saak.

Wesley ·

Die regering is nie die een wat die privatisering van rugby teenstaan nie. Dit is die unies self en hul grootkoppe, hul eie sous treintjie, om langs die veld te staan met n brannas in die hand, verniet op die unies se boeke, almal wat hul stemme insit by die raad-vergaderings. SARU is net die besigheids-arm van SA rugby maar nie die besluitnemers van die struktuur van rugby in ons land nie. Kry hul om te stem vir die ommeswaai van SA rugby, maar vir die groot manne in hul losies sal dit sekerlik nooit gebeur nie. Kyk net hoe lyk daai klomp presidente van die unies. Groot GROOT manne, wat defnitief n liefde het vir die “fyner” dinge van die lewe.

Johan ·

Dan is dit tyd dat ons maar weer na amateurrugby toe moet terugkeer. Dis in elk geval meer in on aard. Ons speel mos eerder vir die lekker en nie vir die geld nie, of wat praat ek alles.

Tom ·

Rugby op die platteland bloei stelselmatig dood. Die Luiperds kan nie voort bestaan sonder geld nie. Vir SARU Gaan dit net oor die groot bonde en geld. Dis bitterlik jammer.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.