Sesnasies: Italië laat Wallis bloos

Federico Ruzza van Italië baklei om die bal te kry in ʼn lynstaan met Wallis se Aaron Wainwright (16 Maart 2024) (Foto: Geoff Caddick/AFP)

Italië se rugbyspan hoef die eerste keer sedert 2015 nie meer die Sesnasies-houtlepel saam te karring nie, want dit behoort nou aan Wallis, wat die eerste keer in 21 jaar segeloos in die reeks geëindig het.

Italië het Saterdag in Cardiff getoon dat sy onlangse gelykopuitslag teen Frankryk en sy oorwinning oor Skotland geen vloekskoot was nie toe hy Wallis met 24-21 geklop het.

Italië het die kragmeting oorheers en het verdien om maklik te wen om sy beste seisoen nog in die Sesnasies te kroon.

Die eindtelling vlei die Walliesers, want hulle het twee drieë in die doodsnikke gedruk om ʼn bietjie aansien aan hul verloor-droogte te gee.

Italië, wat power in verlede jaar se Wêreldbekertoernooi in Frankryk was, het die afgelope paar maande ʼn metamorfose ondergaan.

Hulle speel met baie meer vuur en passie, hulle gee nie meer boedel oor nie, hulle skep kanse vir hul buiteagterspelers, hul verdediging is rotsvas en die voorspelers voer hul basiese pligte reg uit.

Wat interessant is, is dat die span se “nuwe” afrigter, die Argentyn Gonzalo Qusada in sy speeldae in sekere kringe as “die krap” bekend gestaan het, omdat hy so min vaart van die merk af gehad het en hoofsaaklik op taktiese skoppe staat gemaak het.

Nou het die Italianers, wat steeds net met twee spanne, Benetton en Zebre, in die Verenigde Rugbykampioenskap moet klaarkom, baie meer selfvertroue en die nodige wenmomentum.

Wallis se treurmare duur voort.

Van hul beste agterspelers soos Louis Rees-Zammit (hy probeer ʼn loopbaan in die Amerikaanse NFL uitkap), Leigh Halfpenny, Liam Williams, Dan Biggar, Rhys Patchell en nou ook George North het óf verhuis óf uitgetree.

Daar is nie veel lig in die tonnel nie, want al die Walliese spanne sukkel in die VRK.

Hul diepte is aan die dun kant en dit kan jare vat voordat die Rooi Draak uit sy winterslaap gaan ontwaak.

Puntemakers: Wallis 21 (0): Drieë: Elliot Dee, Will Rowlands, Mason Grady. Doelskoppe: Sam Costelow, Ioan Loyd (2).

Italië 24 (11): Drieë: Monty Ioane, Lorenzo Pani. Doelskop: Paolo Garbisi. Strafdoele: Garbisi (3), Martin Page-Relo.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.