Sewesplesier weer terug in Kaapstad

Foto: GB Jordaan

Daar is darem ’n tikkie goeie nuus vir plaaslike sewesrugby-ondersteuners. Die Suid-Afrikaanse ronde van die HSBC-sewesreeks sal van 10 – 12 Desember 2021 in Kaapstad aangebied word.

Die gewilde Suid-Afrikaanse sewessafari is in 2020 weens die wêreldwye Covid-19-pandemie gekanselleer en volgens Wêreldrugby sal dit vanjaar die laaste pitstop van ’n verkorte reeks wees.

Jurie Roux, SA Rugby se uitvoerende hoof, het die aankondiging verwelkom en gesê dat die Kaapstadse toernooi jaarliks van wêreldgehalte is.

“Ons werk hard daaraan om te verseker dat daar aan die hoë standaarde en verwagtinge voldoen sal word, gegewe die heersende pandemie-regulasies.”

Volgens Roux verdien Wêreldrugby lof vir die wyse waarop hulle probeer om die internasionale rugbykalender weer op koers te kry. Hy is ook opgewonde oor die feit dat Kaapstad gasheer vir die laaste toernooi in die reeks sal speel.

“Dit sal ongetwyfeld ekstra vonk verskaf en Kaapstad sal oor die drie dae weer vir hope vermaak sorg.”

Alan Gilpin, Wêreldrugby se tydelike uitvoerende hoof het op sy beurt gesê dat die internasionale rugbybeheerliggaam hande met plaaslike regerings sal vat om te toe sien dat die veiligheid en gesondheid van spelers en ondersteuners die hoofprioriteit is.

Die onsekerheid wat die pandemie teweegbring beteken dat beplanning en bepalings maklik by ’n stadiondeur kan uitwaai en volgens Gilpin sal hulle die veranderende situasie gereeld monitor.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.