Sewesrugby: Blitsbokke vuur eindelik op alle suiers

(Foto: @Blitzboks/Twitter)

Die Blitsbokke se mans- en vrouespanne het Saterdagmiddag in Toulouse verlore aansien herwin nadat albei spanne op Vrydag se eerste dag en Saterdagoggend nie aan verwagtinge voldoen het nie.

Die Blitsbokke se manspan, wat in hul laaste groepwedstryd deur Samoa geklop is en die eerste keer sedert 2013 nie die kwarteindronde van die hoofloting kon haal nie, het Japan verspot maklik met 40 – 0 geklop in hul wedstryd in die kwarteindronde om die negende plek.

Die halfeindronde om die negende plek is Sondag om 12:12.

Die Blitsbokke het met heelwat meer passie gespeel, minder foute begaan en die tipe spel opgedis waaraan ondersteuners oor die afgelope paar seisoene gewoond geraak het.

Dalk was daar geen druk op die Blitsbokke nie, maar ʼn mens wonder hoekom hulle nie dieselfde vertoning in hul neerlae teen Samoa en Ierland (Vrydag) kon lewer nie.

Die Blitsbokke sal na alle waarskynlikheid in die eindstryd om die negende plek teen Nieu-Seeland te staan kom, wat die eerste keer ooit nie die kwarteindronde kon haal nie.

Punte: Suid-Afrika 40 (19): Drieë: James Murphy, Dalvon Blood (3), Ronald Brown, Siviwe Soyizwapi. Doelskoppe: Branco du Preez (2), Dewald Human (3). Japan 0.

(Foto: @WomenBoks/Twitter)

* Suid-Afrika se vrouespan het sy kragmeting in die halfeindronde om die negende plek met Spanje met 21 – 19 gewen nadat hy groot slae in sy eerste drie wedstryde gekry het.

Dit het baie beter met die span gegaan en hulle het met meer selfvertroue gespeel.

Suid-Afrika speel nou in Sondagoggend (09:52) se eindstryd om die negende plek.

Suid-Afrika 21 (7): Drieë: Ayanda Malinga, Nadine Roos (2). Doelskoppe: Roos (3).

Spanje 19 (7): Drieë: Iera Echebarria, Lea Ducher, Eva Aguirre Diaz. Doelskoppe: Ingrid Algar, Ducher.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.