Sharks vat laterig vlam en rol Griekwas toe om

(Foto: The Sharks/Facebook)

Griekwas se rugbyspan het die Sharks Saterdag op Kingspark in Durban groot laat skrik toe Enver Brandt ʼn drie binne die eerste minuut van hul Curriebeker-wedstryd gedruk en Tinus de Beer met die doelskop geslaag het.

Toe Fezokuhle Mbatha die tuisspan se eerste drie in die 8ste minuut gedruk het, kon die Sharks-ondersteuners darem begin asem haal.

Maar nadat die Blitsbok Werner Kok in die 28ste minuut die Sharks die eerste keer laat voorloop het (12-7) was dit blote eenrigtingverkeer.

Die Sharks, was rustyd reeds met 26-7 voor was, het oorheers om met 47-19 te wen om hul plek in die halfeindronde te bespreek.

Tog weet ʼn mens steeds nie of die Sharks genoeg skietgoed het om enduit hul man te kan staan nie. Daar is baie vaart met balskeppers soos Aphele Fassi en Lukhanyo Amy wat baljaar, terwyl Curwin Bosch die toutjies trek. Maar wat sal gebeur wanneer die Sharks, wat kwaai onder beserings deurloop, se voorspelers nie die mas opkom nie?

Is hul verdedigingspatroon nie te maklik om oop te vlek nie? Is daar genoeg diepte as spelers positief vir Covid-19 toets?

En Griekwas? Dié manne speel hul harte uit, maar ongelukkig is daar net nie genoeg diepte nie.

Ja, hulle staan (soms) hul man, maar nie vir die hele wedstryd nie.

Harde werk wag op die rugbybase.

Punte:
Sharks 47 (26): Drieë: Fezokuhle Mbatha, Werner Kok, Yaw Penxe, Lukhanyo Am, Sikumbuzo Notshe, Dylan Richardson, Aphelele Fassi. Doelskoppe: Curwin Bosch (6).
Griekwas 19 (7): Drieë: Enver Brandt, Gideon van der Merwe (2). Doelskoppe: Tinus de Beer (2).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.