Sir Clive gee Eddie die skuld

Engeland se spelers stap van die veld ná die Twickenham-slagting. Foto: Glyn Kirk/AFP/

Die afgelope naweek se loesing gaan nog lank by Engeland spook. Frankryk het sewe drieë gedruk om die Engelsmanne met 53 – 10 op hul rugbyheiligdom te klop.

Maar volgens sir Clive Woodward kan die skuld vir die rugbytreurmare voor Eddie Jones se deur gelê word.

Jones is verlede jaar die trekpas as Engeland se hoofafrigter gegee, terwyl Steve Borthwick – ʼn voormalige Rose-kaptein – as sy opvolger aangewys is.

“Dit sal baie maklik wees om na Steve Borthwick te kap en te sê dat hy vir die nederlaag verantwoordelik is. Maar Engeland se vernedering teen Frankryk is nie die nuwe afrigter se skuld nie,” het Woodward in sy Daily Mail-rubriek geskryf.

Volgens die Wêreldbeker-wenafrigter, wat in 2003 die Webb Ellis-trofee saam met spelers soos Martin Johnson, Jonny Wilkinson en Lawrence Dallaglio gewen het, bevind Engeland homself tans in ʼn gat wat Jones gegrawe het.

Sir Clive Woodward. (Foto Twitter @rugbyincanada)

“Die nederlaag onderstreep die feit Engeland-rugby in groot moeilikheid is danksy die Eddie Jones-regime. Vir die afgelope drie jaar het ʼn paar goeie vertonings  ʼn bietjie verf oor die diep krake gesmeer.”

Ondanks die suur druiwe is Jones een van die beste afrigters wat Engeland nóg gehad het – hy het immers 73% van sy wedstryde aan die stuur van die span gewen. Terselfdertyd het die Rose onder meer ook die Sesnasiesreeks onoorwonne afgesluit, terwyl hulle tot die eindstryd van die Wêreldbeker-rugbytoernooi gevorder het.

Woodward sê dat die Rose se jongste vertoning hom egter slapelose nagte gee en dat die waarskuwingsligte beslis behoort te flikker.

“Die eerste ding waaraan Engeland sal moet aandag gee, is hul spoed, atletiese vermoë en fiksheid. Die Franse het gewys dat hulle strate beter as die Rose in dié afdeling van die spel is. Dit was amper asof dit mans teen seuns by die afbreekpunte was.”

Dit was egter darem nie net hartseer en ellende nie.

“Engeland weet nou op watter vlak hulle sal moet speel as hulle ʼn realistiese kans wil staan om die Webb Ellis-trofee te wen. Borthwick sal hieruit moet leer en vinnig optree; dinge gaan beslis nie makliker word nie.”

Engeland speel Saterdag teen Ierland in Dublin en die Iere sal beslis op hul beste wees – ’n Grand Slam-titel is immers op die spel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Frans ·

Sir Clive lewe in die verlede en om die skuld op ander te pak gaan niks help nie

Republikein in die Wes Kaap ·

Engeland is op alle gebiede besig om te sink.

Jack Russ1 ·

Kan enige iemand nog die Sir ernstig opneem. Hy is net soos die talle mooiweers ondersteuners in elke sport.

In 2016 is Eddie geloof vir sy eerste groep wat hy bymekaargesit het. 2017 toe kerm die Sir omdat Eddie nog deel van ‘n klub in Japan is. 2018 toe speel Engeland hulle beste rugby nog volgens die Sir. In 2020 loof hy hom omdat hy nie luister na ander nie en sy eie span kies soos hy wil. Selfs in die begin van verlede jaar loof hy Eddie oor hoe die span kalm bly in moeilike wedstyde. Vanaf Julie verlede jaar begin Engeland verloor en nou het die Sir nie ‘n goeie woord te sê nie

Klink my die ou geniet dit vreeslik om met die media te gesels en kan net die afrigter loof of afbreek, maar het nie veel anders te sê nie

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.