Slegs twee verbeter posisie in Pro14-reeks

Die Italiaanse klub Benetton Treviso moes onverwags die knie buig teen nog ʼn Ierse provinsie, Connacht. (Foto: Twitter via @connachtrugby)

Slegs twee spanne kon die afgelope naweek hul posisie op die Pro14-punteleer verbeter, en nog heelwat opwinding wag in die wedloop om die ses plekke in die uitspeelronde.

Die Ierse provinsie Ulster het sy jongste sewe wedstryde op die ry af gewen en is nou tweede in Afdeling B, nadat die Italiaanse klub Benetton Treviso onverwags teen nog ʼn Ierse provinsie, Connacht, verloor het.

Die onaantasbare voorloper in Afdeling A, die Ierse provinsie Leinster, het met 11– 28 slae gekry teen die Skotse superklub Edinburgh wat daardeur van vyfde tot vierde in Afdeling B opgeskuif het.

Die Cardiff Blues behou sy vierde plek in Afdeling A met ʼn oorwinning van 41– 17 oor ʼn ander Walliese streekspan, Scarlets, en trek steeds gelyk wat ligapunte betref met die derde geplaasde Ierse provinsie Connacht wat Treviso, in daardie stadium tweede in Afdeling B, verrassend met 29 – 14 opgedreun het.

Hoewel die Scarlets tot vyfde in Afdeling B afgeskuif het, is die span van Llanelli ook nog nie uit die prentjie nie.

Glasgow Warriors se Matt Fagerson was Speler van die Wedstryd ná die span se kragmeting teen die Cheetahs. (Foto: Twitter via @GlasgowWarriors)

Die Cheetahs se hoop om die uitklopfase te haal het Saterdag waarskynlik ʼn finale knou gekry toe die Vrystaters die knie met 17– 35 voor die Skotse superklub Glasgow Warriors moes buig.

Laasgenoemde het sy posisie boaan Afdeling A verstewig en voorlopig die Ierse provinsie Munster, met sy Suid-Afrikaanse afrigter Johann van Graan, daarvan weerhou om die eerste plek te herwin.

Die sukkelende Italiaanse klub Zebre het die Iere laat skrik deur rustyd met 12 – 5 voor te loop, maar Munster het op die ou end gerieflik met 31– 12 gewen.

Met slegs twee tuiswedstryde en die Cheetahs in Bloemfontein wat op die Kings wag, beteken dié span se nederlaag van 19 – 33 teen Ulster dat die Oos-Kaapse franchise sedert sy toetrede tot die reeks nog nie oorsee kon wen nie.

Die Walliese streekspan Ospreys (Swansea) is insgelyks steeds in die wedloop ná sy sege van 29 – 20 oor sy buurstreek Dragons (Newport).

Die puntemakers –

Cardiff Blues 41 (38) – Drieë: Owen Lane (2), Aled Summerhill (2), Josh Turnbull. Doelskoppe: Gareth Anscombe (5). Strafdoele: Gareth Anscombe (2).
Scarlets 17 (0) – Drieë: Rob Evans (2), Ioan Nicholas. Doelskop: Leigh Halfpenny.

Connacht 29 (14) – Drieë: Caolin Blade, Matt Healy (2), Jack Carty. Doelskoppe: Kyle Godwin (2), Jack Carty. Strafdoel: Jack Carty.
Benetton Treviso 14 (7) – Drieë: Antonio Rizzi, Dewaldt Duvenhage. Doelskoppe: Antonio Rizzi (2).

Ospreys 29 (10) – Drieë: Dan Evans (4). Doelskoppe: Luke Price (2), Sam Davies. Strafdoel: Luke Price.
Dragons 20 (17) – Drieë: Rhodri Williams, Hallam Amos. Doelskoppe: Jason Tovey (2). Strafdoele: Jason Tovey (2).

Glasgow Warriors 35 (21) – Drieë: Callum Gibbins, Kyle Steyn, Rory Hughes, Stafford MacDowell, Scott Cummings. Doelskoppe: Pete Horne (3), Adam Hastings (2).
Cheetahs 17 (5) – Drieë: William Small-Smith (2), Joseph Dweba. Doelskop: Tian Schoeman.

Munster 31 (5) – Drieë: Jeremy Loughman, Rhys Marshall, Darren Sweetnam, Niall Scanell, Mike Haley. Doelskoppe: Tyler Bleyendaal (3).
Zebre 12 (12) – Drieë: Jamie Elliot, Roberto Tenga, Doelskop: Carlo Canna.

Edinburg 28 (14) – Drieë: WP Nel, Ross Ford, Bill Mata, strafdrie. Doelskoppe: Jaco van der Walt (2), Simon Hickey.
Leinster 11 (11) – Drie: Sean Cronin. Strafdoele: Ciaran Frawley (2).

Ulster 33 (21) – Drieë: Stuart McCloskey, Rob Lyttle, Marcell Coetzee, Robert Baloucoune, John Andrew. Doelskoppe: Billy Burns (3), John Cooney.
Kings 19 (12) – Drieë: Yaw Penxe, Ulrich Beyers, Mike Willemse. Doelskoppe: Werner Pretorius (2).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

George in Bloem ·

Die Cheetahs en Kings is so pateties in hierdie reeks dis om van naar te word. Dalk moet hulle maar die Lesotho liga gaan speel. Dalk wen hulle dan ‘n wedstryd of twee. Hulle is nou al ‘n geruime tyd die melkkoeie in die Pro 14 en dit word nie beter nie maar eerder vrotter. Ek kyk nie eers meer nie. Pateties verby.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.