Só lyk pad vorentoe in VRK-reeks

Munster was verlede jaar se VRK-kampioenspan. (Foto: Hansie Linde)

Suid-Afrikaners gaan op 20 en 27 April ʼn goeie voorsmakie kry van dít wat op die Springbokke wag wanneer hulle in Julie in twee toetswedstryde teen Ierland speel.

Dit is wanneer die Lions (20 April) op Ellispark teen Leinster speel en die Bulls Munster op Loftus Versfeld in die Verenigde Rugbykampioenskap (VRK) pak.

Die volgende Saterdag (27 April) speel Munster op Ellispark teen die Lions en die Stormers pak Leinster in die Kaapstad-stadion.

In die onlangse verlede het Leinster nie sy beste spanne na Suid-Afrika gestuur nie, omdat hy byna seker van die eerste plek op die puntelys was en eintlik maar net die sakkie in twee toerwedstryde moes toeknoop.

Maar dié seisoen het Leinster (39 punte) reeds twee keer verloor en is die Ierse kragreus net drie punte voor die Glasgow Warriors (36 punte), gevolg deur die Bulls (35), Benetton (32) en Edinburgh en die Stormers saam op 30 punte.

Ná die naweek se wedstryde begin dit ál meer lyk asof drie Ierse spanne (Leinster, Munster en Ulster) saam met die Bulls en Stormers, twee Skotse spanne (Glasgow en Edinburgh) en moontlik ook Benetton (Italië) sake in die uitspeelrondes sal uitspook.

Die Lions (24 punte) is ná Saterdag se nederlaag teen die Bulls deur ʼn paar oorsese spanne ingehaal, terwyl die Sharks (10 punte) laaste is, maar die pretbederwers kan wees.

Leinster was baie indrukwekkend in die tweede helfte teen Benetton toe die span met 47-18 gewen het, terwyl Munster Vrydagaand in Llanelli die Walliese Scarlets se tjank met 42-7 afgetrap het.

Ulster kan ook nog die kaarte deurmekaarkrap, want hy moes Sondagmiddag teen die Ospreys (Wallis) speel en kan tot vyfde of selfs vierde opskuif.

Die Glasgow Warriors was Saterdagaand op Scotstoun rooiwarm toe die span die Dragons (Wallis) met 40-7 uitgestof het. Die Skotte gedy al hoe meer onder die afrigter Franco Smith en hoewel die Skotte steeds ʼn bietjie dunnerig voorlangs vir die Bulls en Stormers kan wees (veral in Suid-Afrika), sal hulle nie maklik in Glasgow geklop word nie.

Die vierde Ierse span, Connacht, het gesukkel om Cardiff (wat in ʼn stadium met net 13 spelers moes klaarkom ná ʼn rooi en ʼn geel kaart) met 15-12 te klop.

Die naweek se uitslae:

Lions 10, Bulls 25;

Sharks 21, Stormers 25;

Cardiff  12, Connacht 16;

Glasgow Warriors 42, Dragons 7;

Scarlets 7, Munster 42;

Zebre 19, Edinburgh 40.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.