Spanje stamp Blitsbokke ook uit hul pad

Siviwe Soyizwapi in aksie tydens verlede maand se sewestoernooi in Kanada (Foto: Don MacKinnon/AFP)

Nóg ʼn sewestoernooi, nóg ʼn hartseerverhaal vir die Blitsbokke.

Nadat die Blitsbokke Sondagoggend die eerste keer ooit teen Spanje verloor het, word gesê dat daar bitter min spanne in Wêreldrugby se sewesreeks oorbly wat nog nie die Blitsbokke kon klop nie.

Spanje het in die Singapoer-toernooi sy sprokiesverhaal met sy eerste oorwinning oor die Blitsbokke geskryf toe hy die halfeindronde om die uitspeelplek om die negende posisie met 12 – 5 gewen het.

Nadat die uitgedunde Blitsbokke, wat net nege fikse spelers beskikbaar gehad het, Saterdag twee van hul drie groepwedstryde verloor het en nie tot die kwarteindronde kon vorder nie, het hulle vroeg Sondagoggend ʼn oorwinning van 12 – 5 oor Ierland in die kwarteindronde van die uitspeelwedstryd om die negende plek behaal.

Maar in die halfeindronde is hulle deur die Spanjaarde tot oorgawe gedwing.

Ja, daar was versagtende omstandighede met Sean Williams, Ricardo Duarttee, Tiaan Pretorius en Donovan Don op die beseringslys, maar die vaardighede van die span, soos hul hantering, swak verdediging en swak speldissipline, begin al hoe meer uitstaan.

Die Blitsbokke kon boonop slegs 55 punte in ses wedstryde aanteken, maar het 60 afgestaan.

Punte:

Spanje 12 (5): Drieë: Pol Pla, Juan Ramos. Doelskop: Ramos.

Suid-Afrika 5 (5): Drie: Siviwe Soyizwapi.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

kragaap ·

Lyk my die blitsbokke het dieselfde probleem as die blou bulle currie beker span. Verandering van afrigter en skielike reuse afdaling in prestasie……

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.